Dít is wat protokol vir uitvoer behels
DIE protokol wat die riglyne verskaf vir die uitvoer van lewende diere per skip, is onlangs deur die direkteur van veterinêre gesondheid bekend gemaak. Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het vroeër dit duidelik gestel dat dit uiters belangrik is dat só ’n protokol afgehandel word om dié soort uitvoer op ’n volhoubare grondslag te doen.
Die RPO het via die Rooivleisbedryfsforum betrokke geraak by ’n regsproses om te verseker dat die protokol gestalte kry.
Die RPO se siening was nog altyd “doen dit reg dan kan ons dit op lang termyn op ’n volhoubare grondslag doen”.
Hierdie protokol sal dien as versekering aan verbruikers dat die rooivleisbedryf ernstig is om aan alle dieresorgvereistes te voldoen en ook dat dieresorgorganisasies kennis moet neem dat die regering en die bedryf hierdie riglyne afgehandel het in ooreenstemming met die riglyne van die internasionale dieregesondheidsorganisasie (WOAH).
Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die RPO, sê wanneer lewende diere per see vervoer word, is dit belangrik om seker te maak dat ’n hoë standaard van dieresorg toegepas word. Dié verantwoordelikheid is nie net ’n wetlike verpligting nie, maar daar kan ook ekonomiese implikasies wees as dit nie nagekom word nie.
Die belangrikste belanghebbendes by die uitvoer van diere per see is die uitvoerder, die invoerland se bevoegde owerheid, die skeepsredery en die kaptein, dierehanteerders en veeartse wat aangestel is by geriewe waar die diere aangehou en op die vaartuig is.
Dié partye is verantwoordelik en verantwoordbaar vir die gesondheid en sorg van die diere vir die duur van die vervoer, asook die tydperk voor die reis begin, wanneer die diere aan boord gaan, die seereis en wanneer die diere die skip verlaat.
In SA én by bestemming
Dit is belangrik dat diere wat van Suid-Afrika uitgevoer word, menswaardig in Suid-Afrika en die land van bestemming behandel word. Daar word verwag dat diere wat van Suid-Afrika uitgevoer word, in soortgelyke toestande hanteer sal word as wat die geval in Suid-Afrika is. Daarom sal die dieresorgvereistes ingevolge die Wet op Dierebeskerming (Wet 71 van 1962) gebruik word as riglyn om die dieresorg in die land van bestemming te evalueer.
Hoewel die eienaarskap en beheer van diere nie langer in Suid-Afrika gesetel sal wees nie, kan die uitvoerder verantwoordbaar gehou word vir enige onmenslike hantering van diere by die land van bestemming.
Die riglyne omskryf vereistes vir geriewe en skryf voor dat versigtige beplanning onderneem word, waaronder die vermindering of verwydering van stres of skade aan die diere soos beserings of skielike fisiologiese verandering. Die geriewe waar die diere aangehou en vervoer word, moet voldoen aan al die voorskrifte wat in dié riglyne saamgevat is, asook aan die Wet op Dierebeskerming. Dit is van toepassing op voertuie wat gebruik word vir die vervoer van diere, die vaartuig wat gebruik gaan word, hougeriewe voor die diere gelaai word, en op-en-aflaaideurgange.
Sover dit die beplanning en situasie van die reis betref, skryf die riglyne voor dat die tydperk van middel Mei tot einde Augustus vermy moet word wanneer diere na die Midde-Ooste en enige ander lande vervoer word met hoë somertemperatuur. Dieselfde geld ’n reis waar daar deur gebiede beweeg moet word waar baie hoë temperature voorkom.
Wat is aan boord?
Voorskrifte bestaan ook vir die minimum toerusting en medikasievoorraad, kos en water, die keuse van diere op die plaas/ voerkraal van oorsprong en tydens die laaiproses, asook die laai en vervoer tussen die plaas/ voerkraal van oorsprong, aanhougeriewe en die vaartuig.
Wat die daaglikse versorging en bestuur van diere aan boord betref, is dierehanteerders onder die toesig van die veearts aan boord. Voldoende gesondheiden welsyninspeksies van alle diere moet onder meer ten minste twee keer tydens ’n 24-uur-periode gedoen word. Tydens die inspeksies moet die temperatuur en voginhoud gemonitor word op die plekke waar die diere aangehou word en die veearts moet alle diere aan boord ten minste een per per dag inspekteer.
Veterinêre en gepaardgaande prosedures vereis onder meer dat die aanhougerief en die vaartuig voorsien moet wees van die nodige medikasie om na die diere om te sien tot die reis voltooi is.
Gebeurlikheidsplanne en noodreaksieprosedures wat potensiële nadelige gebeure en onverwagte vertragings identifiseer wat tydens die reis kan voorkom, moet voorberei word, hersien word en deur die kaptein goedgekeur word voor elke besending.
Dié planne moet deur die amptelike uitvoerveearts hersien en goedgekeur word voor die reis begin.
Die verskillende verantwoordelikhede en bevoegdhede van die uitvoerder, bevoegde owerheid van die invoerland, die provinsiale veterinêre owerheid, die kaptein, veeartse aan boord, dierehanteerders en ’n onafhanklike moniteerder word breedvoerig in die protokol beskryf.
Verder moet alle mense wat betrokke is by die hantering van diere by die aanhougeriewe tot versending na die land van bestemming opgelei wees in die hantering en sorg van diere – óf deur middel van hul professionele kwalifikasies óf ’n opleidingsprogram wat deur die veeartse aan boord goedgekeur is.
Die protokol baan nou die weg vir die toepassing van Visie 2030 vir die rooivleisbedryf om uitvoer op ’n inklusiewe grondslag te laat groei, asook vir die slag van vee om die winsmarges van die primêre produsent te verhoog.