Is Namibië wat ons moes wees?
Die bordjies aan die suide van Afrika is verhang. Niemand kan eintlik meer waag om te sê hulle kyk noord en neuk voort nie. Jean du Preez, oudredakteur van Landbouweekblad, sny met ’n skalpel deur die ooglopende en onderliggende verskille en onderstrominge tussen Suid-Afrika en Namibië ná ’n onlangse besoek en gesprekke met boere.
Hoe verskil Suid-Afrika en sy buurland Namibië tans? Die antwoord lê straks simbolies opgesluit in die name van twee plase op die rand van die Namib: Toekoms en Wêreldsend.
Onlangs besoek ons Namibië weer ná agt jaar. Ek sou saam met my seuns, skoonseun, swaer en dié se broer met Live the Journey se manne bo by die Kunene gaan draai het, maar ’n nekbesering het my planne beduiwel.
Namibië roep my egter, dus vlieg ek, my vrou en my swaer se vrou Walvisbaai toe en sluit by die woestynreisigers aan toe hulle weer in Swakopmund eindig. Die jong manne vlieg die volgende dag terug Kaap toe, en ons twee egpare ry met hul twee voertuie stadig suidwaarts, al op die rand van die Namib langs.
Dis op hierdie roete waar die twee plaasname my oog vang, nie ver van mekaar nie.
Dis verlate wêreld hierdie, op die oog af ongenaakbaar, maar verstommend mooi.
En dit maal in my kop: Twee mense, seker lankal dood, het hulle hier kom vestig. Een het ’n toekoms gesien; die ander een swarigheid. Tekenend van wat tans in Namibië en Suid-Afrika ontvou.
‘Kyk maar net suid’
My neef Does boer ook daar op die Namib-rand, deesdae meer met mense as met wild en beeste, want toeriste kom drink die unieke landskap in wat voor jou oopvou as jy op die stoep van sy Kronenhof Lodge staan.
Ons bly ’n paar aande by hom oor – en
BO: Wye toekomsblik. Waar die Suid-Afrikaanse regering herhaaldelik in dieselfde slaggate trap, en die landbou ’n direkte slagoffer daarvan is, het Namibiese boere ’n stabieler grondslag waarvandaan hulle sake bedryf. loop ons vas in die 75ste bestaansjaarviering van die Maltahöhe-boerevereniging.
Namibiërs deins nie terug vir lang afstande nie. Hier is seker digby 100 mense; ook Piet Gouws, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie. Ek dog, laat ek hoor wat sê ons buurland se landbouleier.
Een van sy eerste opmerkings is in Engels: “Start creating the future, stop repeating the past.”
Weer dwaal my gedagtes terug na die plaasname: Suidwaarts, oor die grens,
maak ons dieselfde foute oor en oor, ons regering bly in die verlede karring, sy planne is uitgediende politiek.
Piet se praatjie gaan oor die toekoms van die landbou. Hy sê ons moet ons eie toekoms skep, maar ons kan daardie toekoms nie op ’n politieke beginsel bou nie.
Die georganiseerde landbou is die stabiliserende faktor in die landbou. “As ons dit nie meer het nie, dan lyk dit soos dit in Suid-Afrika lyk.”
En dan slaan Piet ons paar Suid-Afrikaners in die gehoor met hierdie voorhamer: “As ons wil praat van ’n mislukte staat, hoef ons net suid te gaan kyk hoe lyk dit in Suid-Afrika. Dit is ’n mislukte staat.”
Hy sê selfs ’n Suid-Afrikaanse landbouleier het nou die dag vir hom laat weet: “Piet, ons is nou amptelik ’n Mafia-staat.”
Boere nie meer voorrangsaak
Terwyl Piet voortgaan, dink ek by myself: Dêmmit, is dit werklik hoe ons bure ons sien? Maar kan ’n mens hom verkwalik as hy dit waarneem: Die chaos met Eskom, ’n regering wat leierloos rondsteier, dorpe wat tot in die grond in verval, misdaad wat landwyd galop en korrupsie wat voortduur, ondanks die Zondo-kommissie se bevindings en aanbevelings.
Nie dat Namibië vlekkeloos is nie. Die taxibestuurder wat ons twee dae tevore van die lughawe Langstrand toe geneem het, het gesê: “Hier is ook maar Zumas, en die Chinese speel saam.”
Elders lees ek hul nommer 1 word as The Boss beskryf, en soos met ons vorige nommer 1, is daar oor hom ook vrae.
Oor Namibië self draai Piet nie doekies om nie. Hy praat van ’n afwesige staat wat die landbou betref – boere moet hul eie potjie krap. Maar hulle het duidelik ’n uitstekende verhouding met hul minister van landbou en finansies, lei ek af.
Hy sê die landbou is ook nie meer hul regering se voorrangsaak nie. “Die vraag is hoekom? Gewoon omdat die landbou nie sy stembasis verteenwoordig nie. As die regering se doelwit is om sy steunbasis gevoed en tevrede te hou, dan is ons (boere) mos nie sy voorrangsaak nie.
“Boere moet dit verstaan en rondom dit werk. Die regering se verantwoordelikheid is om te konsentreer op die ontwikkelende sektor. Dit is waar sy sentiment lê, en dis wat ons hom moet toelaat om te doen.”
Namibië het ook sy politieke ekstremiste, sê Piet. “Diegene sal altyd met ons wees. Ons sit met Jop Amupanda, Suid-Afrika sit met die Malema-dilemma, ons moet dit bestuur.
“Tog, ons kan nooit onafhanklik sake bedryf nie. Die staat bly ons vennoot, maar ons moet aanvaar die staat se voorkeure verskil van ons s’n. Ons moet self verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
“Ons hooftaak moet verhoogde produksie en groei wees om die agterstand in te haal. Let wel, om die agterstand in te haal, en nie die voorste punt te verdeel nie.”
‘Wie’s in beheer?’
Dan is Piet weer terug by Suid-Afrika. Hy sê die mense wat uitpraat oor die Eskom-chaos word geëlimineer, daar is nie wet en orde in Suid-Afrika nie, die misdadigers loop rond.
“Hier by ons sit die twee of drie skuldiges van Fishrot (die groot korrupsieskandaal in Namibië) minstens in die tronk. Hier by ons is petty crime, dis nie misdaad nie, ons kan nie praat van ’n mislukte staat nie, Suid-Afrika het dit.
“Die regering se verantwoordelikheid is om vir ons ’n gunstige omgewing te skep, en ek dink hy doen dit. Ons het vrede in die land – kyk hoe lyk dit in Soedan, in Oekraïne.”
En ek moet met hom saamstem – die vrede in Namibië is tasbaar.
Laatmiddag, ná die vergadering, kuier ons bier in die hand saam met die boere. Ek en Does staan op sy lodge se stoep en kyk hoe die son soos ’n gloeiende koperbal agter die Namib wegsink.
Ek sê vir hom die verskil tussen Namibië en Suid-Afrika is vir my opvallender as toe ek agt jaar gelede hier was. Dit lyk of dinge gebeur, of daar vooruitgang is.
Ja, sê hy, maar jy moet onthou, die Wambo’s is in beheer in Namibië, hulle is entrepreneurs. “Wie’s by julle in beheer, die Zoeloes, die Xhosas?”
Hy vang my onkant. Instinktief sê ek ons is leierloos – dit voel eerder of die Mafia heers, misdaadsindikate wat Eskom leeg steel. In die boubedryf eis hulle hul pond, oral waar groot projekte van die grond af moet kom, voel dit daar kom eers ’n hand uit wat kommissie eis waarvoor nie ’n vinger verroer is nie. En daardie ding verstaan oorsese beleggers nie; hulle onttrek dan maar bloot.
’n Lang lys van hoop
In die paar dae wat ons in Namibië is, val dit ons op hoe skoon die dorpe is, hoe ontspanne die atmosfeer in die land is.
Maar dit is veral die ontwikkeling wat jy waarneem. Uit Walvisbaai word ’n nuwe pad gebou. Die nuwe treinspoor wat van Lüderitz gebou word om uiteindelik mangaan in Suid-Afrika te gaan haal, trek al ver die binneland in. Ek hoor van ’n soortgelyke treinspoor wat Walvisbaai se hawe uiteindelik met Zambië en die DRK gaan verbind, alles gemik op die uitvoermark vir minerale.
Ek verneem Namibië se minister van vervoer, John Mutorwa, sê sy land se spoornetwerk moet ’n onuitwisbare merk op die lewe van Namibiërs maak. Hy werk volgens ’n plan, Visie 2030.
Daar is olie aan die Namibiese kus ontdek. Ek verneem Lüderitz gaan ’n nuwe hawe kry.
Watter teenpool is dit nie van die situasie in Suid-Afrika nie! Ons spoornetwerk is basies tot niet. Swaar vragmotors ry ons paaie in hul peetjie in, min onderhoud word gedoen.
Op die laaste been van ons reis ry ons van Aus na Rosh Pinah, en van daar met ’n pragtige nuwe teerpad al langs die Oranjerivier af wes na die grenspos by Oranjemund.
Die maanlandskap wat voor jou oopvou, moet ’n oorsese toeris se droom wees, dink ek by myself.
SA kort ’n Wêreldsend
Laatmiddag op pad na Port Nolloth verwelkom een van Suid-Afrika se bekende handelsmerke ons: slaggate. Op Port Nolloth doen ons navraag oor verblyf. ’n Vrou wat ’n paar gastehuise bestuur, sê pront
uit, julle kan nie hier slaap nie, ons het nie water of krag nie. Gelukkig kom ons reg op McDougallsbaai.
Die volgende dag is ’n lang rit terug Kaap toe; jy luister RSG. Jy kom onmiddellik agter hoe André de Ruyter die vark in die Eskom-verhaal gemaak word. Dis nou die narratief in die regering, sê ’n kommentator.
Beurtkrag (wat Namibiërs nie ken nie) het deel van ons lewe geword. Dis ’n gestoei oor of Suid-Afrika wapens aan Rusland verkoop het of nie, pres. Cyril Ramaphosa stel links en regs mense aan om te ondersoek wat aangaan om verhoudinge met Amerika te probeer stabiliseer.
Jy hoor van ’n kommissie wat moet dink wat ons gaan doen as Poetin vir die Brics-beraad in Johannesburg opdaag. Dit voel of die regering nie meer herwaarts of derwaarts weet nie.
Jy hoor op die radio ’n kommentator beskryf Ramaphosa as ’n goedige omie wat ’n buiteklub in stand hou.
Terug by die huis lees jy in Die Burger ’n sakeleier sê die lomp manier waarop die regering oor al die krisisse kommunikeer, kos die land geld. “Suid-Afrika gaan net eenvoudig ’n mark wees wat jy vermy. Dit gaan soos ’n afdraaipad wees waar jy verbyry omdat die grondpad net te sleg is.”
’n Ander sakeleier sê ons gaan vinnig nêrens heen nie, die regering is ongeorganiseerd, totaal ongeorganiseerd.
Noord van ons dink en werk Namibiërs entoesiasties aan die toekoms. Hier by ons ploeter ons in die modder voort. Weens ’n leierlose regering wat op krisisbestuur teer, wat die foute van die verlede herhaal.
Ons is jaloers as ons sien hoe ons buurland stof in ons oë skop. Ons droom almal om ook weer uit die as op te staan.
Daarvoor gaan ons ’n Wêreldsend nodig hê – vir die ANC en sy leierlose regering.