Goedkoop herstel van veld wel moontlik
Ekologiese restourasie kan baie duur wees, veral in droë gebiede waar die verwydering van myngrond nie reg hanteer word nie. As boere egter hul veld goed ken en vindingryk is, kan hulle dit relatief goedkoop restoureer.
Byna ’n kwart van die veld in Namakwaland is verswak weens die ondeurdagte bestuur van bogrond by myne, onoordeelkundige beweiding en lande wat elke jaar geploeg word.
Daar is lank aanvaar dat verswakte veld in Namakwaland nie gerestoureer kan word nie omdat die gebied so droog is.
Gelukkig toon jare van navorsing en uitgebreide veldproewe deur dr. Peter Carrick, dr. Susan Botha en Raldo Krüger van die maatskappy Nurture Restore Innovate (NRI), hul medewerkers en studente dat daardie landskappe wel met welslae gerestoureer kan word.
Hulle vertel oor die wetenskap van en gee praktiese wenke vir restourasie in hul boek Ekologiese restourasie in Namakwaland: ’n Praktiese gids. Die boek is ook ’n blitskursus in die ekologie van Namakwaland, wat deel is van die Sukkulente Karoo.
Die boek is gerig op mynmaatskappye wat ingevolge omgewingswette verplig is om myne te rehabiliteer, boere wat hul veld wil verbeter, staatsamptenare wat tenderdokumente opstel, asook maatskappye wat ná bouwerk van paaie, pypleidings en groot geboue rehabilitasie moet doen.
Een van die grootste struikelblokke vir restourasie is koste. Carrick, ’n internasionaal gerekende restourasie-ekoloog, het onlangs gesê as mynmaatskappye NRI se riglyne volg, kan dit ’n baie duur proses afgee, dog restourasie wat reg gedoen word, is suksesvol en blywend.
Die goeie nuus vir boere is dat dit nie duur hoef te wees nie, sê hy. “Boere sukkel ten minste nie met bogrond wat verwyder is nie. By baie myne is ál die towerkrag van die bogrond verlore. Boere in Namakwaland kla oor kraalbos, maar dit lewer minstens ’n funksie in die veld en herstelproses.”
Die boek beskryf praktiese maniere om veld te beoordeel, asook eenvoudige restourasietegnieke. Carrick meen as boere hul veld goed ken en kreatief dink, kan hulle
restourasie relatief goedkoop doen.
Hoe bepaal ek die toestand van my veld?
In hoofstuk 9 van hul boek gee die skrywers baie aandag aan die beoordeling van veld om te bepaal of dit verswak is en om ná restourasie vas te stel of dit suksesvol was.
Hoewel dit raadsaam is om die stappe in die boek te volg, sê Carrick ’n vereenvoudigde weergawe van die proses sal wees om ’n plantlyn van 100 meter in die veld af te meet en die plante langs daardie lyn te tel.
In die telling moet gelet word op die hoeveelheid en die verskeidenheid plante. “Boere hoef nie te weet presies watter plantspesies op die lyn groei nie, maar hulle moet kan sien dat plante van mekaar verskil.”
Daarna kan hulle na landskapstabiliteit kyk. Daar is dele van Suid-Afrika waar bewegende sand natuurlik is. Weg van daardie gebiede sal jy plante sien wat sigbaar besig is om te vrek in sand wat hulle toewaai.
Ander voorbeelde van verswakte veld is ou lande, oftewel graanlande wat nie meer bewerk word nie, wat met kraalbos oortrek is en waar opslag ná winterreën opkom.
“Daar is nie veel verskeidenheid op daardie lande nie. Die opslag gee goeie weiding vir ’n kort tyd in die winter. Meerjarige plante wat in die droë tye weiding gee, is ’n beter maatstaf van terreinstabiliteit.”
Carrick stel voor boere doen die beoordeling in die somer omdat daar nie opslag is nie. “Opslag is goeie weiding, maar dit dra nie tot die strukturele integriteit of langtermynvolhoubaarheid van die veld by nie.”
Waar daar baie plante is, maar nie verskeidenheid nie, weet jy jou grond is goed en dat dit op ’n manier funksioneer. Dit beteken egter ook daar is ’n gebrek aan bronne van diversiteit. Jy hoef nie iets aan die grond te doen nie, jy moet net sekere plantspesies inbring.
Volgens hom gaan dit nie net oor die getal spesies nie, maar ook dat belangrike funksionele groepe teenwoordig moet wees.
“Die hooffunksionele plantgroepe wat jy moet inbring, is klein struike, staande vygies, kruipvygies, groot struike, grasse, vetplante, meerjarige kruide en bolle.”
Sy voorstel is om ’n paar van dié spesies in te bring sodat die veld kan besluit watter die beste is. “Dink ook aan maniere om saad vas te vang, soos holtetjies in die grond. Die saad waai dalk net oor ’n landskap wat te glad is.”
Ná restourasie-aksies is dit belangrik om die sukses daarvan te meet. Dit kan gebeur dat daar ’n groot verskeidenheid plantspesies opgekom het, maar dat die plantbedekking nie goed is nie. Volgens hom kan dit wees dat die restourasieperseel meer tyd nodig het of dat die grond só uitgeput is dat die plantbedekking of hoeveelheid plante minder is.
Ou lande vs. oorbeweiding
Daar is verskillende vlakke van verswakking. Dr. Wesley Bell, ’n omgewingswetenskaplike, het sy doktorsgraad oor die gebruik van afstandswaarneming om veldverswakking te bepaal, gedoen.
Hy het ’n kaart ontwikkel wat die omvang van verswakte veld in Namakwaland aandui (sien BO). Die kaart wys net die dele wat die ergste verswak is, soos gebiede wat onoordeelkundige gemyn is en ou lande. Ou lande kan volgens Bell “mediumswak tot ’n bietjie swak” wees.
“As lande elke jaar geploeg word, kan die natuurlike saadbank uitgeput word.”
As ’n land vir tien jaar en langer baie hard bewerk is sonder oorlêjare tussenin, en niks word gedoen om dit te rehabiliteer nie, kan dit 50-100 jaar duur voordat meer as kraalbosse en opslag daar groei.
Hulle het egter voorbeelde gekry van ou lande wat tot meer as kraalbos herstel het, dog ná 100 jaar sal die plantverskeidenheid en weidingswaarde steeds laag wees.
Carrick meen gewasverbouing verswak veld meer as beweiding waar die veld gereeld kans kry om te rus.
“Volwasse, meerjarige plante vrek nie so maklik as gevolg van droogte of beweiding nie. Hulle kan tot stompies bewei word, maar as die reën kom, kan hulle weer groei.
“Die manier waarop grond deur beweiding verswak word, is deur dit vir só lank onophoudelik te bewei dat die skape tot
90% van die blomme vreet en saadproduksie tot stilstand kom. Die ou plante wat nog ’n blommetjie dra, vrek later.”
Karoosaad beweeg nie ver nie
Nog ’n rede waarom restourasie so nodig is, is die feit dat die saad van die meeste plante in Namakwaland nie ver beweeg voordat hulle teen iets vaswaai nie.
“Vygiesade het ver beweeg as hulle ’n meter van die moederplant weggekom het. Selfs die sade van die gousblombosse wat ontwikkel is om deur die wind versprei te word, gaan sit vas in die eerste ding waarteen hulle vaswaai. Vir hulle is 10 m ver.”
Dit is waarom mense nie kan verwag om niks te doen en te hoop dat saad van die veld langs die restourasieperseel oorwaai nie.
Dit is nie net sleg nie. Sade wat in die alomteenwoordige kraalbospionierplante vaswaai, kan mettertyd in dooie bosse opkom. “Dit is wat jy wil hê.”
Dit is ook baie goed om diere, insekte en voëls in die veld te hê omdat hulle saad versprei. Veral voëls kan saad ver versprei.
Hy is baie gesteld daarop dat mense nie plante net as goed of sleg moet klassifiseer nie. Hoewel indringers soos Prosopis spp., Acacia cyclops, kaktusse en Nicotiana spp. (twakboom of Jan twak) beslis verwyder moet word, is daar sekere voordelige kortlewende indringers, soos rankbrakbossie (Atriplex semibaccata). “Hulle groei plat, help om die grond te stabiliseer en vang allerhande dinge onder hulle stingels vas.”
Vrugbare eilande
Restourasie-ekoloë kyk anders na ongewenste plante, soos kraalbos en renosterbos, ’n ander langlewende pioniersplant wat veral op die Kamiesberg groei. Heelwat navorsing is in Namakwaland gedoen oor die sogenoemde vrugbare eilande wat onder dié bosse ontwikkel, die skuiling wat hulle aan ander plante bied en hul funksie as beskermplante (nurse plants).
Carrick sê hoewel hulle nog nie allellopatie by kraalbosse klinkklaar kon bewys nie, ontkiem saad van ander plante dikwels nie baie goed naby dié bosse nie, maar as hulle eers opgekom het, is dit nie meer ’n probleem nie.
Doktorale navorsing deur dr. Carina Becker, ’n wetenskaplike by die WWF, toon dat renosterbos ’n beter beskermplant as kraalbos is. Tog is daar selfs vyf jaar nadat ’n kraalbos gevrek het, nog voedingstowwe in die grond waar dit gestaan het.
Hoewel ander bosse se droë takke beter is om oor restourasieholtes te plaas om sade vas te vang of jong saailinge te beskerm, kan kraalbos ook gebruik word.
Hulle wil nie voorskriftelik wees nie, en restourasie werk die goedkoopste uit as hulpbronne gebruik word wat in die omgewing beskikbaar is. Wat boere nié moet doen nie, is om alle kraalbosse uit te spit. Hulle moet dié vrugbare eilande gebruik om ander sade te plant.
Wat hulle kan doen as hulle baie geduld het, is om saad van plante van die funksionele groepe wat algemeen voorkom en maklik groei, vlak in die grond om die kraalbosse wat die oudste lyk, te plant. Namate die kraalbosse ouer word en vrek, sal plante in en om die dooie plante begin groei.
“Wat jy wil hê, is ’n dooie kraalbos met baie ander plante wat daarin groei.”
Carrick sê kraalbosse is nie taai plante wat baie lank lewe nie. Hulle maak net baie saad en waar een kraalbos uitgespit word, kom tien ander op.
Tydsame proses begin met saadversameling
Veldrestourasie in droë gebiede is ’n tydsame proses. Een van die belangrikste voorbereidings is om saad op die plaas te versamel. Vanweë die aard van saadvorming by Namakwalandse plante is saadversameling nie ’n eenmalige proses nie.
“Dit is droë ekologiese stelsels. Een jaar sien jy niks plante wat blom nie en die volgende jaar blom sekere plante wel.”
Vir sukses met saadversameling moet boere hul veld baie goed ken. “Jy moet weet waar die plante voorkom wat jy benodig. Jy soek ’n digte groep plante sodat jy nie té ver hoef te loop om die 20% van die saad wat jy volgens wet mag versamel, te kry nie.”
Tydsberekening is baie belangrik by saadversameling. “Maak notas van wanneer plante blom en hoe lank daarna hulle saad vorm. Sommige spesies neem ’n maand van blom tot saadvorming, maar vygies kan vier of meer maande nodig hê.”
Carrick sê wanneer die sade ryp is, is hulle reg om geoes te word. “Vir saad wat deur die wind versprei word, moet jy daar wees as hulle ryp is.”
Ryp saad moet behoorlik gedroog word. “Saad moet superdroog wees voordat jy dit in ’n streep- of papiersak (nie plastiek nie), bêre. Daarna moet jy die saad gereeld ondersoek om seker te maak streepmuise en kalanders vreet dit nie op nie. Ongelukkig sal jy dalk insekdoder moet gebruik.”