Só lyk bloutong
Siek skape toon ’n geswelde kop en lippe. Speekselvloei, asook neus- en ooguitloopsels, word gesien en die skaap lyk olik en wil nie wei nie. As die binnekant van die bek ondersoek word, is daar sere op die kant van die lippe, in die res van die bekslymvlies en veral erge weefselskade op die boonste, harde verhemelte wat die skaap moet gebruik om die gras vas te byt sodat dit met die onderste snytande afgepluk kan word. Die tong is rooier as normaal en in uitsonderlike gevalle selfs blou, vandaar die naam van die siekte.
Vanweë ’n hoë koors raak die skaap lusteloos en wil nie vreet nie. As gevolg van die wonde op die slymvliese en vogopbou in die longe (longedeem) kan sekondêre bakteriese infeksie ook voorkom, wat gewoonlik die oorsaak van vrekte is.
Die verdere aantasting is te sien by die kloue. By veral wit wolskape kan ’n duidelike rooi lyn gesien word waar die vel by die klourand aansluit. Die kloue voel warm en die skaap is baie mank as gevolg van die inflammasie, asook spierswakheid.
’n Ander kliniese teken is ’n “onderbreking” in wolgroei by herstellende skape. Dit lei tot gedeeltelike of volledige wolverlies.
Die indirekte of minder sigbare verliese behels fetale verliese wat voorkom by ooie wat in die somer en herfs gepaar is, en tydelike onvrugbaarheid van aangetaste ramme (weens koorsreaksie) tydens die paarseisoen. Aborsies weens die koorsreaksie kom voor by hoog dragtige ooie wat in die herfs moes lam, of daar is abnormale lammers by geboorte indien die ooi in die eerste derde van die dragtigheidstydperk besmet was.