Strategie bou ’n sterker toekoms
Senwes het ’n suksesvolle oorgang van ’n landboukoöperasie na ’n gediversifiseerde en winsgewende landboumaatskappy gemaak wat sy teenwoordigheid onlangs tot in Duitsland uitgebrei het.
DIVERSIFIKASIE en die verspreiding van risiko was juis Senwes se strategie om nie net volhoubaar te wees nie, maar ook te groei.
Só ’n strategie duur egter jare om sukses te behaal, veral in die wisselvallige landbousektor. Dit was daarom voordelig vir Senwes dat Francois Strydom, uitvoerende hoof, en Danie Minnaar, voorsitter van die direksie, reeds onderskeidelik 13 jaar en 10 jaar in hul ampte is.
Hul standpunt is dat jy nie die toekoms kan voorspel nie, maar jy kan dit probeer skep.
Senwes het pas vir die tweede jaar agtereenvolgens ’n rekordomset en -wins behaal. Waaraan skryf jy dit toe?
Dit is grootliks te danke aan ’n strategiese grondslag wat in 2010 gelê is om te diversifiseer. Ons het dié doelwit omskep in ’n strategie oor 10 tot 15 jaar, en hierdie is die resultaat.
Danksy die drie jaar lange nat weersiklus en goeie kommoditeitspryse het boere meer geld gehad om te bestee, wat voordelig was vir ons meganisasie.
Dit het die debiteureboek op ’n gesonde grondslag geplaas, want boere kon hul skuld betaal. Boere het ook meer lande beplant omdat dit so nat was, wat gelei het tot ’n groter graaninname.
Senwes se diversifikasie (en sy verkrygings die afgelope jare) is eerder horisontaal as vertikaal in die landbouwaardeketting. Hoekom werk dit beter vir julle?
Senwes ding nie mee met sy klante of met die insetverskaffingsketting nie. Ons verskaf die insette aan die boer, en neem dan weer daardie produk in en verskaf dit aan die mark. Dit is waarom goeie klanteverhoudings vir ons so belangrik is. As die boere nie kan boer nie, kan Senwes nie sake doen nie.
Dit was vir ons baie belangrik om nie net te konsentreer op ons tradisionele somersaaigebied nie. Dit is ook hoekom ons geografies uitgebrei het met filiale en gesamentlike ondernemings soos JDI in die Oos- en Wes-Kaap, Falcon gekoop het, in KLK belê het, Carpe Diem Raisins in ons portefeulje is en hoekom ons die verkrygings in Duitsland gedoen het.
Die probleem vir baie landboubesighede se sakemodel is dat groter boere deesdae finansiering direk by banke kan kry en insette direk van verskaffers koop of self hul graan opberg. Hoe hanteer julle dit?
Ja, dit is altyd ’n risiko, maar mededinging is ’n goeie ding. Dit hou jou op jou tone en sorg dat jy die regte dinge doen.
Baie groter boere is Senwes-kliënte danksy die Agri Rewards-program, ’n bonusskema wat hulle beloon – en natuurlik danksy goeie diens en pryse.
Wat graanopberging betref, glo ek nie silo’s op plase ding mee met Senwes nie. Baie boere skep net vir hulself groter kapasiteit.
Senwes besit en bedryf nou al vir tien maande drie John Deere-agentskappe in Duitsland en daar is planne om ’n vierde een te koop. Watter voordeel hou dit vir Senwes se toekomsplanne in?
Die uitbreiding na Duitsland is baie belangrik vir risikoverspreiding en diversifikasie. Jy moet die risiko versag om jou volle balansstaat net in Suid-Afrika bloot te stel.
Diversifikasie na die Noordelike Halfrond gaan ons ook help om weerverwante risiko’s, soos El Niño, te trotseer. Twee verskillende seisoene op verskillende tye van die boekjaar gaan ons kontantvloei ook beter pas.
Hoe hanteer Senwes verswakkende infrastruktuur op die platteland, waar hy sake moet doen?
Dit is kommerwekkend. Die staat se verantwoordelikheid word nou die besighede s’n. Boere is ook gewoond daaraan dat hulle self planne moet beraam.
Die samewerking tussen silobestuurders en boere om tekortkominge met infrastruktuur te oorkom, is eintlik uitstekend. Ons gaan in die volgende twee tot drie jaar R150 miljoen aan sonkrag bestee.
Ons het ook reeds twee jaar gelede twee padskrapers gekoop en beskikbaar gestel. Hiermee skraap ons die paaie na ons silo’s, terwyl boere van die omgewing die diesel verskaf.
Die instandhouding hou vir almal wat daardie paaie gebruik, voordele in.
Hoe verskans ’n besigheid soos Senwes, wat so afhanklik van somergraanoeste is, hom teen ’n El Niño-fase soos nou weer verwag word?
Buiten diversifikasie het ons oor die jare geleer wat die waarde van ’n goeie debiteureboek is.
Met die droogte van vyf, ses jaar gelede en die moeilikheid wat dit vir die Wes-Vrystaat gebring het, kon Senwes al sy produsente daar help. Ons is deur daardie siklus en die meeste van daardie produsente kon ook hul skuld betaal.
As jy dus gesonde finansiering toepas en nie groot risiko’s loop met finansiering aan mense wat dit nie eintlik kan terugbetaal nie, kan jy deur ’n El Niño kom.