DA beveg raskwotas in die landbou
In die afgelope twee maande het die regering twee nuwe struikelblokke in die pad van die Suid-Afrikaanse landbou geplaas. Die sektor gaan reeds gebuk onder ’n aantal risiko’s, waaronder plaasveiligheid, die moontlike verlies van die Agoa-uitvoervoordele met Amerika, die verval van infrastruktuur in dele van Suid-Afrika, bottelnekke by hawens, stygende insetkoste en die swaard van die nuwe Onteieningswet.
Toe kom die regering verlede maand na vore met twee nuwe konsepregulasies wat dreig om die landbousektor oor die afgrond te stoot. Die eerste stel regulasies het te make met die wysigings aan die Wet op Diensbillikheid wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar bekragtig het. Die wysigingswet gee aan die minister van arbeid die mag om raskwotas voor te skryf vir elke besigheid met meer as 50 werknemers in elke sektor en elke provinsie in Suid-Afrika.
Die kwotaregulasies is een van die mees regressiewe en onheilspellende ontwikkelings in Suid-Afrika se moderne geskiedenis. In die hofsaak wat die DA reeds aanhangig gemaak het om dié drakoniese wetgewing ongrondwetlik te laat verklaar, wys ons uit dat daar tans meer as 27 000 werkgewers is wat deur die regulasies geraak gaan word – waaronder talle boerderye met meer as 50 werknemers.
In tabelle wat oor 35 bladsye strek, word die rassamestelling van besigheid reg oor Suid-Afrika voorgeskryf. En die landbou is die heel eerste sektor wat in die visier is.
Onder die absurditeite is die voorskrif dat nie ’n enkele bruin mens op verskeie posvlakke in Limpopo en Mpumalanga in diens geneem mag word nie. Dan is daar die Oos-Kaap, waar swart vroue beperk word tot 13% in die topbestuur van land’n
boubedrywe, wat beteken dat ’n landbou-onderneming wat 100% deur swart vroue besit word, ook die wet sal oortree.
Solidariteit se berekeninge toon om die kwotas op nasionale vlak na te kom, sal 89% van wit mense en 39% van bruin mense in senior poste in die landbousektor hul werk moet verloor.
Soos die DA in ons hofstukke uitwys, bevestig die verwoestende gevolge van nie-nakoming dat hierdie regulasies eerder ’n stel raskwotas is as teikens. Enige besigheid wat ná vyf jaar nie aan die kwotas voldoen nie, sal gekeer word om besigheid met die staat te doen en kan met tot 10% van sy jaarlike omset beboet word.
Waterlisensies
Die rasmalligheid eindig nie daar nie. Net ’n week nadat die kwotaregulasies bekend gemaak is, het die regering ook konsepregulasies uitgereik om raskwotas toe te pas op waterverbruik in die landbou. Ingevolge dié stel kwotas sal enige plaas wat 250 000 m3 tot 500 000 m3 water onttrek, ten minste 25% in swart besig moet wees. Vir onttrekking van 500 000 m3 tot 1 000 000 m3 word die kwota tot 50% verhoog, en vir meer as 1 000 00 m3 is dit 75%.
Hoewel die departement van water en sanitasie probeer skerm het dat die kwotas slegs van toepassing sal wees op aansoeke om nuwe lisensies, is daar niks in die wet wat die departement op hierdie wyse beperk nie. Die wet gee volle magtiging aan die minister om kwotas op álle lisensies toe te pas. Die geskiedenis het lank reeds geleer dat dit onwys is om ’n belofte van hierdie regering te glo.
Daarom werk die DA ook tans aan ons kommentaar om hierdie waterkwotas teen te staan. Vir die duisende plase wat ten volle in familiebesit is, sal voldoening aan die wet beteken dat regstellende aksie nou ook op families toegepas moet word.
Die risiko wat hierdie twee stelle rasregulasies vir die landbou en voedselsekerheid inhou, is wesenlik. Boetes vir nie-nakoming kan talle besighede wat reeds op haarfyn marges oorleef, tot niet maak. En die gebruik van raskwotas vir toegang tot water kan neerkom op ’n verskuilde vorm van onteiening sonder vergoeding van korporatiewe en familiebedrywe.
Nes die DA reeds die voortou geneem het in die stryd om Agoa te beskerm, asook teen ander bedreigings vir die landbousektor, soos grondonteiening, is ons hofstukke teen raskwotas reeds ingedien.
Maar die realiteit is solank die ANC in beheer is, gaan ons aanhoudend moet werk net om die ergste te keer, pleks van om die beste vir die Suid-Afrikaanse landbou na te streef.
Dit is waarom dit so belangrik is dat boere en plaaswerkers reg oor die land seker maak dat hulle geregistreer is om in volgende jaar se verkiesing te kan stem. Vir die eerste keer sedert 1994 kan die ANC sy meerderheid kwyt wees. En deur die moonshot-pakt wat ons besig is om met ander opposisiepartye te vorm, kan Suid-Afrika in 2024 vir die eerste keer ’n nuwe nasionale regering verkies waarin die DA sal sorg dat die landbousektor opgehef word pleks van om dit aanhoudend af te breek. John Steenhuisen
Leier, Demokratiese Alliansie