Midde-Ooste tot China soek ál meer SA vleis
Verteenwoordigers van potensiële invoerders is beïndruk met die gehalte van die bedryf se geriewe en prosesse, maar die bedryf moet hande vat om sy probleme op te los.
OUDITEURE van Saoedi-Arabië het Suid-Afrika verlede maand op ’n feitesending besoek. Dit het gevolg ná ’n uitvoerooreenkoms wat pres. Cyril Ramaphosa en Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, verlede jaar beklink het. Dié Midde-Oosterse land het onderneem om tot 1 000 ton rooivleis per jaar uit Suid-Afrika in te voer.
Dewald Olivier, hoofbestuurder van Red Meat Industry Services, het op die OctavosceneChemuniqué-voerkraaldag by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in Pretoria gesê die ouditeurs was veral beïndruk met die geriewe waaroor die Suid-Afrikaanse
bedryf beskik.
“Ek sê nie ons kan met die wêreld se groot produksielande meeding nie, maar ons het ’n spesifieke produk wat ons aan ’n spesifieke streek en spesifieke kopers kan bemark. Daar is ook ’n afvaardiging vanuit China wat Suid-Afrika eersdaags kom besoek om na uitvoergeleenthede te kyk, en laat ek dit duidelik stel: Daar is ’n groot aanvraag na Suid-Afrikaanse rooivleis.
“Ons potensiële markte is baie beïndruk met ons stelsels en sê dat daar Eerstewêreldse lande is wat nie op ons vlak is nie. Ons het die aanlegte en die vaardighede. Nou moet ons net die res in plek kry, die standaarde, die naspeurbaarheid, residue, en ons kan vir onsself ’n groot toekoms skep.”
Bedryf neem leiding
Prof. Leon Prozesky, eienaar van Path Diagnostics Africa, het gesê die afgevaardigdes vanuit Saoedi-Arabië was veronderstel om twee dae aan oudits te bestee, maar dat die vlak van Suid-Afrikaanse laboratoriums sodanig was dat hulle slegs ’n dag nodig gehad het.
“Een van die vrae was egter hoe ons ons residu-programme bestuur. Gelukkig was daar wel reeds ’n aantal voerkrale wat vier jaar gelede gevra het vir ’n inisiatief van die private sektor in hierdie verband en ons kon gevolglik aan hulle wys dat daar reeds vordering met die program gemaak is.”
Hy het ook gesê dat die hele waardeketting mekaar nodig het om die uitvoergeleentheid ’n werklikheid te maak.
“Ek is self ook ’n produsent en indien daar nie voerkrale bestaan nie, het ek nie ’n mark vir my kalwers nie, en as daar nie produsente is wat kalwers aan voerkrale lewer nie, het ons nie ’n produk om te bemark nie.
“Vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief weet ons dat plaaslike vraag nie noemenswaardig gaan styg nie, en die enigste manier om te groei is dus uitvoer. Een van die sleutelaspekte hiervan is voedselveiligheid. Dit is dalk net een aspek van die groter prentjie, maar indien ons vir die plaaslike én oorsese klant kan bewys dat wat ons produseer veilig en gesond is, skep ons net ’n groter mark.”
Kompartemente
Prozeksy het uitgebrei dat invoerlande ook wil weet hoe die gesondheid van vee gemonitor word. “Voerkrale is alreeds intensief daarmee besig, en ’n goeie aanduiding van die dier se gesondheid is om by die abattoir ’n post mortem op die organe uit te voer en sodoende die gesondheidstatus te bepaal. Daar is dus ruimte en geleenthede reg oor die waardeketting om aan ons potensiële markte te wys wat ons kan doen.”
Olivier het gesê die toekoms van uitvoer na Saoedi-Arabië lê in kompartemente.
“Ek het ’n week met die ouditeure deurgebring en hulle is baie tevrede met ons verskillende aanlegte en tevrede met wat hulle gesien het oor die oorsprong van ons vee. Die regering is ook tevrede daarmee om op kompartemente af te teken. Nou is die tyd ryp om saam te werk.”