Sensako bou voort op ryk geskiedenis
Sensako is ’n bekende saadhandelsmerk in die Suid-Afrikaanse landbou wat oor jare bekend is om gehaltesaad wat deur goeie navorsing gerugsteun word.
Met die stigting van Sensako in 1958 was die hoofdoel om nuwe teellyne en ouersaad te lewer vir produksie deur die koöperasies, en dan die saad te verkoop. Mettertyd het Sensako ook verantwoordelikheid aanvaar om die ouersaad van die nasionale ouersaadskema te lewer.
Sensako – die afkorting vir die Sentrale Saadkwekerskoöperasie – was in wese ’n saadmaatskappy wat deur die landboubesighede besit is.
Dit is gestig deur wyle dr. Jorrie Jordaan, ’n bekende koringteler, en die doel was ook om ’n diens namens die destydse koöperasies te lewer.
Die maatskappy het gegroei en in 1975 is die eerste navorsingsplaas, Marné, buite Bethlehem in die Vrystaat, van DJ Pretorius aangekoop.
In 1983 het Sensako ’n lisensiehouer geword van Dekalb, ’n saadmaatskappy met sy hoofkantoor in Amerika.
Só het Sensako toegang bekom tot uitstekende mielie- en sonneblomteelmateriaal wat onder die Senkalb-handelsmerk verkoop is.
Nog uitbreidings het in 1985 gevolg met die byvoeging van nog ’n 50 ha-navorsingsplaas buite Napier in die Overberg. Hier het die telers hoofsaaklik gekonsentreer op Kaapse koring, hawer en gars. Mettertyd is ’n dubbel-haploïedlaboratorium daar gevestig om die teelprogramme te ondersteun.
In die 1990’s was Sensako baie suksesvol met ’n sterk handelsmerkbewustheid en ’n markaandeel van ongeveer 30% vir mielies, 60% vir sonneblom, 75% vir koring, 60% vir sojabone en 40% vir hawer.
Met die deregulering van die graanbedryf is die landboukoöperasies gedwing om meer klem te lê op graanhandel en -opberging en minder op saadinsette. Onder die leiding van Gert Heyns en Dirk Grobler het Sensako begin om saad regstreeks aan boere te bemark.
In die laat 1990’s is die eerste GM mielies in Suid-Afrika geplant. Die eerste baster wat die tegnologie aan boere gebring het, was ’n Sensako-produk – SNK 2340 Bt.
Dit was ook in hierdie tyd dat Sensako se sukses dit baie aanloklik vir buitelandse landboumaatskappye gemaak het en Monsanto, ’n maatskappy wat in Amerika gesetel is, het Sensako gekoop.
In 2008 het Monsanto besluit om aan die koringmark te onttrek. Dit het daartoe gelei dat Patrick Graham en dr. Francois Koekemoer die koringbesigheid by Monsanto gekoop het. Sensako was nou weer as ’n volwaardige maatskappy deel van die landbou.
Oor die jare het Sensako baie bekende koringtelers opgelewer, en van die name sal deur die ouer boere onthou word. Hulle was:
■ Dr. Bart Lombard
■ Dr. Jorrie Jordaan
■ Johan Boonzaaier
■ Dr. Francois Koekemoer
■ Driecus Lesch
■ Dr. Frans du Toit
■ Jan Malan
In Augustus 2020 het Syngenta die Sensako-maatskappy gekoop en gaan die Sensako-naam steeds voort as die saadhandelsmerk van Syngenta in Afrika.
Die toegang tot nuwe tegnologie en kiemplasma bied aan dié bekende handelsmerk die geleentheid om weer sy volwaardige plek in die saadbedryf in Suid-Afrika vol te staan en met sy aanbod van koring-, mielieen sonneblomsaad boere te help om graan volhoubaar te produseer.