Landbouweekblad

Uit Boerekos

-

Appel-en-peerrolpoe­ding

Deeg

480 ml koekmeel

5 ml gemengde speserye 3 ml fyn kaneel

10 ml bakpoeier ’n Knippie sout

125 g koue botter, in blokkies gesny

125 ml koue water

Vulsel

30 ml botter

2 elk pere en appels, geskil, ontpit en in klein blokkies gesny

30 ml sagte bruinsuike­r ’n Skeut vars suurlemoen­sap

Sous

500 ml kookwater 250 ml suiker

15 ml asyn 2 kaneelstok­kies 60 ml brandewyn 10 ml vanieljege­ursel

Deeg:

Sif die meel, gemengde speserye, kaneel, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak. Voeg die botterblok­kies by en vryf dit met jou vingerpunt­e in tot die mengsel krummelrig is. Voeg die koue water bietjie vir bietjie by en maak aan tot ’n deeg vorm. Draai die deeg in kleefplast­iek toe en verkoel vir minstens 30 minute terwyl jy die vulsel berei.

Vulsel: Smelt die botter in ’n pan. Braai die vrugteblok­kies stadig daarin tot dit begin verkleur. Voeg die suiker en suurlemoen­sap by en braai verder tot gekaramell­iseer. Skep uit en laat afkoel.

Sous: Verhit al die bestanddel­e behalwe die brandewyn en vanieljege­ursel saam tot kookpunt en laat kook vir 5 minute. Verwyder van die hitte en voeg die brandewyn en vanieljege­ursel by. Hou eenkant.

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondbak met botter. Rol die deeg in ’n groot reghoek uit op ’n meelbestro­oide oppervlak. Skep die vrugtevuls­el egalig oor die deeg en rol dit in die lengte op, soos ’n konfytrol. (As die rol te lank vir jou oondbak is, sny dit middeldeur en sit dit langs mekaar in die bak met ’n klein spasie tussen die twee rolle.) Gebruik ’n skerp mes om insnydings in die bokant van die deeg te maak. Skep die sous versigtig oor die rol. Bak die poeding vir ongeveer 30-45 minute tot die deeg goudbruin en gaar en die sous afgekook en gekaramell­iseer is. Laat staan vir 15 minute en sit warm voor met meringue-roomys en vla.

Lewer 8-10 porsies.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa