Oornat, maar dankbaar
Vandag reën dit weer met mening op Citrusdal. Duidelik het die engele nie die boodskap gekry nie – dit is mos elke dag plukweer in die hemel. Maar hulle is óf haastig óf die hemelse forklift-drywer is onervare, want soos dit hier bo ons in die wolke rammel, sal ’n mens sweer iemand stoot leë plukkiste rond.
Vroegoggend het die dag nog helder en droog gelyk. Ons is oor die Mouton-brug na Uitsig, net onder Wolfnes waar die Olifantsrivier ’n kinkel teen die berg vas maak, net onderkant waar die Hexrivier laasweek met mag en mening ronde spoelklippe uit die Sederberg kom dump het.
Water maak sy pad, en wyer is altyd beter as hoër, ongeag wat in die pad staan. Noudat die rivier ’n bietjie gesak het, kon ons ’n slag gaan kyk watter regmaakwerk vir ons voorlê. Vroegoggend klouter ons dus teen Wolfnesboord se steil helling af, krap kop, en kom tot die gevolgtrekking dat dit ’n somertyd-projek sal moet wees.
Ons kyk nog so oor die vallei na Grootberg en Vensterberg (die plaas se naam is nie verniet Uitsig nie) en spekuleer of ons nie maar vandag moes pluk nie, toe steek die eerste wolk sy kop bo Duiwelskop uit.
Halfuur later, laaste inspeksies gedoen onder in die Platlandboord, begin groot druppels spoeg. Dit is net so ’n skrikmaakreëntjie dié, merk Wilfred op.
Ons ry terug huis toe. Toe ons by die skuur stilhou, sjôr dit só dat ons mekaar nie kan hoor nie. Tyd om die span huis toe te stuur. Ons het darem so twee uur se werk ingekry vandag – snoei, paaie regmaak en lemoene optel. Jan is reeds vroeg-vroeg weg dorp toe met die suurlemoene wat ons gister gepluk het.
Dit is nat. Oornat. Maar somehow kan ek nie ophou dankbaar wees vir die reën nie. Martli Slabber
Hexrivier-boerdery, Citrusdal