Geskiedenis van koöperasies
Suid-Afrikaanse koöperasies is geskoei op die Raiffeisenidee wat in 1846 deur die Duitser Friedrich Wilhelm Raiffeisen gebruik is om die verarming van die landelike bevolking teen te werk. Dit sluit onder meer in selfhelp, selfadministrasie, ope lidmaatskap vir lede met gemeenskaplike behoeftes, politieke en godsdienstige neutraliteit, vrywillige deelname en die bevordering van lede se belange.
“Die beginsels van die Raiffeisen-idee word vandag steeds in Vilko se statute vervat,” sê Ben Klindt, hoofbestuurder van Vilko.
Heelwat vroeëre koöperasies is die afgelope 30 jaar in openbare maatskappye omskep, onder meer om waarde te ontsluit en só ledegeld in aandele te omskep, of uit onsekerheid oor die politieke omgewing ná 1994.
Die koöperatiewe beweging het laat in die 18de eeu in Engeland en Europa ontstaan, met die hoofdoel om as teenwig te dien vir die nadelige uitwerking van die nywerheidsrevolusie op werkers se vermoë om ’n inkomste te verdien.
Die eerste koöperasie is in 1769 in Fenwick, East Ayrshire, Skotland, gestig. Baanbrekerswerk is in 1844 begin om die beginsels van koöperasies te formuleer.
Die koöperasiemodel het van Europa na Suid-Afrika oorgespoel danksy die bande met setlaars. Verskeie landboukoöperasies het vroeg in die 20ste eeu in Suid-Afrika tot stand gekom. Die eerste een was ’n verbruikerskoöperasie wat in 1892 gestig is toe die Koöperasiewet nog nie bestaan het nie – die naam daarvan is ongelukkig onbekend.
Die eerste Koöperasiewet in Suid-Afrika is in 1908 goedgekeur en dit is sedertdien in 1922, 1939, 1981 en laastens in 2005 aangepas. Vandag staan die wet bekend as die Wet op Koöperasies (Wet 14 van 2005).