Die krag van goeie kuilvoer
Kuilvoer is deurslaggewend vir die sukses van melkerye, maar ook grootskaalse veeboerderye. Prof.
Robin Meeske, spesialiswetenskaplike by die Wes-Kaapse departement van landbou se Outeniquaproefplaas by George, gee raad oor doeltreffende beginsels in die maak van kuilvoer.
Watter nuwe tegnologie vir die maak van kuilvoer toon belowende resultate?
Die basiese beginsels van suksesvolle inkuiling bly dieselfde. Die kuilvoergewas moet op die regte stadium by die optimale voginhoud gekuil word (65% vog vir mieliekuilvoer). Die materiaal moet fyngekerf word (812 mm vir mieliekuilvoer) en goed saamgepak word (240 kg droëmateriaal/m3 vir mieliekuilvoer). Een van die grootste probleme is bolaagverliese in die bunker.
Die verliese kan grootliks beperk word deur goeie saampakking van die bolaag, en om dan ’n digte, dun suurstofversperring van plastiek op die bunker te plaas voordat die konvensionele kuilvoerseile oor die kuilvoer geplaas word om die bunker te verseël.
Op watter maniere kan die verliese in die maak van kuilvoer beperk word?
Deur kuilvoer goed te kerf, saam te pak en te verseël, en ’n kuilvoerbunker in ’n korter tyd te verseël. Sodra die bunker oopgemaak word, word lug ingelaat en gis en swamme begin groei en die pH begin styg.
Kuilvoer gemaak van gewasse, soos mielies wat voldoende suikers (wateroplosbare koolhidrate) bevat, word makliker warm wanneer dit aan lug blootgestel word. Dit is omdat dit heelwat oorblywende suikers bevat, asook hoë vlakke van melksuur. Dié suikers en melksuur is voedingstowwe wat deur swamme en gis benut word.
Die stabiliteit van kuilvoer kan verbeter word deur ’n heterofermentatiewe melksuurbakteriese inokulant (dit lewer meer as een produk tydens fermentasie) gedurende inkuiling toe te dien om só die asynsuurvlakke in kuilvoer te verhoog. Die asynsuur onderdruk die groei van gis en swamme.
Watter byvoegmiddels toon tans goeie resultate?
Verskeie melksuurbakteriese ( Lactobacilli) inokulante is beskikbaar en kan verdeel word in ’n homofermentatiewe (lewer een produk met fermentasie) en heteroformatiewe inokulante.
Homofermentatiewe melksuurbakterieë benut suikers en produseer hoofsaaklik melksuur baie doeltreffend. Dié tipe inokulant word aanbeveel vir gewasse met ’n lae suikerinhoud, soos tropiese grasse, lusern en hawer.
’n Heterofermentatiewe melksuurbakteriese inokulant benut suiker minder doeltreffend en produseer melksuur, propionsuur, asynsuur en koolsuurgas. Dié inokulant word gebruik by gewasse soos mielies met ’n hoë suikerinhoud en moet nie aangewend word by gewasse met ’n lae suikerinhoud nie. Dit is geskik om die aërobiese stabiliteit van mieliekuilvoer te verbeter.
Die meeste maatskappye betrokke in die kuilvoerbedryf bied opsies van dié inokulant aan, en dit word in die maak van mieliekuilvoer aangewend.
Hoe kan boere buite die melkbedryf kuilvoer ten beste gebruik? Is dit ’n winsgewende opsie vir byvoorbeeld kleinvee- en vleisbeesboere?
Mieliekuilvoer word algemeen gebruik as ruvoer in die afrondingsrantsoene vir vleisbeeste. Lammers kan doeltreffend afgerond word met mieliekuilvoer as basis.
Ons het in ’n studie bevind dat lammers wat 60% mieliekuilvoer en 40% konsentraat gevoer is, teen 255 g per dag gegroei het.
Die koste verbonde aan die verbouing en maak van kuilvoer wissel baie — mieliekuilvoer kan tot R2 500/t droëmateriaal kos.
Die voerkoste vir vleisbeeskuddes moet so laag moontlik gehou word. Hulle moet verkieslik op natuurlike veld aangehou en lek gevoer word om voedingstekorte aan te pak.