Dís hoe voëlgriep in ’n ramp ontaard het
Die ander sê
PLAASLIKE kundiges ondersoek die teorie dat die huidige uitbreking van H7N6-voëlgriep ontstaan het toe ’n voëlgriepvirus met lae aansteeklikheid wat in wilde voëls voorgekom het sonder om die voëls siek te maak, gemuteer het in ’n hoogs aansteeklike stam wat hoenders ernstig siek gemaak het. Dié mutasie het in Suid-Afrika voorgekom.
Mutasies van minder na hoogs aansteeklike voëlgriep is al in verskeie dele van die wêreld beskryf, maar daar is geglo dis minder waarskynlik as die H5-klas-voëlgriep soortgelyk aan vorige uitbrekings in Suid-Afrika, skryf dr. Shahn Bisschop, uitvoerende hoof van Avimune en veeartsenykundige konsultant aan die pluimveebedryf.
H7N6 is goed aangepas vir hoenders – dit besmet hulle maklik en vermeerder doeltreffend eerder in hoenders as in ander voëlspesies. Dit versprei ook baie maklik tussen voëls en plase. ’n Geraamde 10 miljoen hoenders is besmet, en 6 miljoen het gevrek van H7N6. Nóg 1,7 miljoen is vroeër vanjaar weens H5N1 dood.
Nuwe en vindingryke denke is nodig om die werklikhede omstandighede in Suid-Afrika aan te pak.
Een moontlikheid is toepaslike entstowwe, wat verliese sal verminder en die siekte stadiger laat versprei. Dit kan ook die vlak van besmetting en verspreiding beperk, maar kan nie die siekte uitwis nie.
Beperkte entstowwe is egter beskikbaar, en indien entstowwe wat geregistreer word vir gebruik nie doeltreffend is teen die plaaslike stam nie, sal dit nutteloos wees.
In ’n onlangse wetenskaplike artikel is gerapporteer dat geen van die aminosuurmerkers in ’n onlangse volgordebepaling van die H7N6voëlgriep teenwoordig is wat dit moontlik maak vir die virus om aan soogdierselle te bind nie. Dit hou dus nie ’n risiko vir mense of soogdiere in nie.