Kunsmislewering: Interdik om LBW te muilband misluk
Hof gelas tydelike verbod op publikasie van ‘vertroulike inligting’.
Plaaslike Boeredienste (Edms.) Bpk. (PBD), waarvan Greenlands Kunsmis ’n geregistreerde handelsnaam is, se week lange stryd om Landbouweekblad met’n dringende interdik te keer om te berig oor die gebrekkige lewering van kunsmis aan boere in Noordwes, Gauteng en die Vrystaat, het op 8 Desember in die Pretoriase hooggeregshof misluk.
’n Tydelike interdik is egter wel toegestaan om die publikasie van PBD se vertroulike inligting te verbied.
PBD het verlede Maandag aansoek gedoen om ’n interdik te verkry teen Media24 se Landbouweekblad, Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad ,endie joernalis Suzanne Venter.
Dit was ’n laaste stap om te keer dat Landbouweekblad inligting publiseer oor hoekom kunsmisbestellings nie gelewer kon word nie.
Greenlands het sy klante en agente vroeg in November vanjaar in kennis gestel dat kunsmisbestellings wat vroeër vanjaar betaal is, nie gelewersalword.
Waarnemende regter AJ le Grange het die saak Woensdag 6 Desember aangehoor, en Vrydag in ’n elektroniese uitspraak beslis Landbouweekblad en Media24 kan met publikasie voortgaan onderhewig aan sekere voorwaardes rakende Greenlands se vertroulike inligting.
Aanvanklik het Greenlands die skuld vir die ongelewerde kunsmis geplaas op BB5 Kommoditeite, wat na bewering in die proses was om Greenlands te koop.
BB5 is as respondent by die saak teen Landbouweekblad gevoeg nadat PBD aangevoer het dat Venter en Landbouweekblad saamgewerk het om vertroulike inligting bekend te maak.
In sy uitspraak het Le Grange Landbouweekblad en BB5 verbied om vertroulike inligting oor die koopooreenkoms, die onderhandelings wat dit vooraf gegaan het en die uitkoms van die onderhandelings tussen die partye, bekend te maak.
Tot die dispuut tussen BB5 en Greenlands afgehandel is, geld ’n tussentydse interdik.
Volgens hofstukke blyk dit dat die koopooreenkoms intussen skipbreuk gely het.
Adv. Roelof du Plessis SC het in opdrag van Herman Potgieter Prokureurs namens PBD opgetree.
PBD het onder meer aangevoer dat dit onaanvaarbaar is dat Landbouweekblad nie die finale artikel aan hulle wil voorlê vir goedkeuring voor publikasie nie, dat die inligting vertroulik is en dat die artikel onherstelbare skade aan die besigheid en Greenlands se goeie naam sal doen.
Landbouweekblad het aangevoer dat Venter middel November begin navraag doenhetnadattalleboere gekla het dat hulle duurder moes betaal vir kunsmis, asook gesukkel het om kunsmis in die hande te kry.
Sy het met minstens ses boereentweeagentegepraat wat glo ernstige skade gely het. As deel van die ondersoek is twee volledige lyste met vrae, asook ’n aparte vraag oor Greenlands se aantyging dat BB5 glo valuta-komplikasies by die SAID ondervind, na Pieter Janeke (inlasfoto),
▶
die eienaar en direkteur van PBD, gestuur.
Landbouweekblad se prokureur, Willem de Klerk, het hofstukke ingedien waarin die aantygings teen die tydskrif ontken word en het aangevoer dat al die “vertroulike inligting” reeds in die openbare domein is en dat die inligting van openbare belang is.
BB5 se prokureur, Danel Campbell, het ook die aantygings teen BB5 in hul antwoord ontken en aangevoer dat hulle geen belang het by die publikasie van die artikel nie, benewens om “akkurate en ware feite” rakende die koopooreenkoms met Greenlands bekend te stel.
Adv. Roelof du Plessis SC het onder meer aangevoer dat Landbouweekblad met kwaadwillige opset te werk gegaan het, hoorsêgetuienis, gerugte en skinderstories glo en met BB5 saamgespan het om Greenlands en PBD se vertroulikheid te skend en hulle die skuld te gee vir die wanlewering van kunsmis aan boere.
Daar is onder meer aangevoer dat Venter subjektiewe beriggewing doen omdat sy self deel is van ’n boeregemeenskap in Noordwes.
BB5 se advokaat, Dale Hinrichsen, het ontken dat hulle enige vertroulike inligting van Greenlands aan Landbouweekblad openbaar het. Hy het aangevoer dat dit Greenlands se verantwoordelikheid was om kunsmis te lewer en dat hulle nou valslik die skuld daarvoor gegee is.
BB5 het ’n beëdigde verklaring van Alphonso Smit, ’n agent wat al 25 jaar vir Greenlands werk, ter stawing by hul hofstukke aangeheg.
Adv. Nick Ferreira, ’n mediaregkenner, het namens Media24, Landbouweekblad, Venter en Burgess opgetree en alle bewerings van vooroordeel en kwade bedoelings ontken. Hy het onder meer aangevoer:
■ Dat Gagging orders om die media te muilband hoogs uitsonderlik is, juis omdat dit ’n aansienlike inperking van mediavryheid is.
■ Dat die Appèlhof uitdruklik bevind het daar is geen verpligting op die media om vooraf stories voor te lê vir goedkeuring nie.
■ Dat Venter meer as 20 jaar ervaring as ondersoekende joernalis het, en in 2017 onder meer met die gesaghebbende Taco Kuipertoekenning vir ondersoekende joernalistiek bekroon is en behoorlike joernalistieke werk gedoen het om die storie te ondersoek.
■ Dat Greenlands herhaaldelik gevra is vir kommentaar, maar van die begin af geweier het en Venter in stede gedreig het.
■ Dat Landbouweekblad nie saamspan met BB5 nie en eers later in die ondersoekproses met hulle kontak gemaak het as wat Greenlands aanvoer.
■ Dat die nie-lewering van kunsmis aan boere, wat lank reeds bestellings geplaas het en deposito’s betaal het, duidelik van openbare belang is.
Koste is voorbehou.