Stories wat in die landbou saak maak
Hoenderboere stoei met inent-tameletjie
Die pluimveebedryf vrees dat min eier produsente dit vanjaar sal kan bekostig omhul lêhentroppe teen die hoogs aansteeklike voël griep te begin inent. Die inenting strategie wat die staat in November goedgekeur het, gaan produsente te duur kos. Die staat se riglyn vir ingeënte hoenders verg fyn monitering en gereelde toetsing om siek hoenders en virusmutasies op te spoor. Ingeënte hoenders mag ook nie op die lewende mark verkoop word nie, wat vir eierprodusente ’n groot verlies aan inkomste beteken. Indien net sekere pluimveeboere hul troppe inent, sal pluimvee weerloos bly teen voël griep besmetting vanaf buur plase.
Die monitering van produsente wat wel begin inent sodra die H7-entstof hopelik vandeesmaand geregistreer word, sal belangrike wetenskaplike inligting oplewer. Dit sal kan help dat die vereistes aangepas word sodat dit vir kleiner produsente ook finansieel sin maak. Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging gaan met die staat onderhandel oor die streng vereistes vir inenting in ’n poging om dit vir meer boere bekostigbaar en prakties uitvoerbaar te maak.
SA se plek in Agoa is veilig — vir nou
Ná maande van onsekerheid het Suid-Afrika die lys gehaal van die 32 Afrikalande wat in aanmerking kom vir handelsvoordele van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede (Agoa). Dit is veral goeie nuus vir die makadamia-, wyn- en Wes- en Noord-Kaapse sitrusbedryf wat die Agoa-tariefvoordele goed benut. Daar was vrese dat Suid-Afrika uitgeskop kon word weens sy partydigheid vir Rusland.
Afrikalande hoop dat die wet vir tien jaar hernu sal word, maar Amerika sal die besluit hieroor eensydig neem. Die wet verval in September aanstaande jaar. Van Januarie tot September 2023 het Suid-Afrika landbouprodukte ter waarde van sowat $317 miljoen (sowat R6 miljard) met Agoa-voordele na Amerika uitgevoer. Suid-Afrika het in dié tyd altesaam $2,3 miljard (R43,4 miljard) se goedere met Agoa-voordele uitgevoer.
Appels en pere tel kop op
Die volume uitvoerappels kan volgens Hortgro vanjaar met 7% styg danksy gunstige weerstoestande en jong boorde wat die afgelope seisoen in produksie gekom het. Tweekleurige rooi appels soos Bigbucks (+33%), Cripps Red (+11%) en Gala (+5%) gaan na verwagting die groot dryfveer vir die groei in volumes wees. Peervolumes kan met 1% styg teenoor 2022-’23, hoofsaaklik danksy groter volumes Cheeky, Celina en Rosemarie. Abate Fetel-volumes kan met 3% daal weens die vroeë oestyd en rypskade.