Wol se ‘hele storie’ gevier
Vroue van die Karoo by Middelburg in die Oos-Kaap laat die wonder van wol herleef met die jaarlikse Karoo-winterwolfees. Suid-Afrikaanse wolboere is immers die voorlopers op die gebied van die produksie van volhoubare wol van goeie gehalte.
Verstedeliking en veranderinge aan waardekettings het die meeste mense ver verwyder gelaat van alles wat gebeur vandat ’n skaap geskeer word totdat hulle ’n woltrui in die winkel kan koop.
Omdat so min wol plaaslik verwerk word, is daar ook boere wat nie presies weet hoe hul wol ná ’n veiling gebruik word en wie die mense is wat dit verwerk of koop nie.
Dit is besig om te verander. Die afgelope twee jaar word alles wat met wol te doen het – van die veld waarop die skape wei tot hoe hulle geskeer en die wol verder verwerk word – op ’n fees in en om Middelburg in die Oos-Kaap gevier.
In 2022 het ’n subkomitee van Middelburg Toerisme die eerste Karoo-winterwolfees gereël. Dit was só suksesvol dat die vier vroue op die subkomitee besluit het om ’n organisasie sonder winsbejag te stig om die fees uit te bou. Cape Wools SA het ook as vennoot aangesluit.
“Ons wil die storie van wol vertel. Ons wil ook wolboere wat nog altyd trots was op hul produk, motiveer om vas te byt en die waardeketting te ontwikkel,” sê Yolandi Erasmus van die plaas Beskuitfontein, Sarah van Lingen van Dwarsvlei, Marlize Moolman van Rusoord en Nelmi Uys van Suidenhof.
“Die fees is in die eerste plek ’n manier om Middelburg se toerisme, waaronder landboutoerisme, en ondernemings te bevorder,” sê Yolandi. “Dit sal altyd ’n Middelburgfees bly. Die dorp is geskiedkundig die sentrum van wolontwikkeling in Suid-Afrika.”
Die fees wys die hele wolwaardeketting – van boere tot makelaars, verwerkers en verbruikers – aan almal wat dit bywoon.
Dit gaan egter nie net oor bewusmaking onder verbruikers oor die wonderlike produk wat wol is nie. Yolandi sê dit maak ook ’n groot verskil aan die landbou.
“Met die fees kom die waardeketting Karoo toe. Modeontwerpers, wolkopers en verbruikers wat wolboere nie andersins sou ontmoet nie, kom almal na die boere toe.”
Sarah beaam dit. “Ons wil die hele storie van wol vertel. Die boere is dikwels die deel wat weggelaat word as daar met die wolhandelsmerke gepraat word. Tog is dit hulle wat vir die skape sorg. Dít is waar die wol vandaan kom. Die fees vertel hul storie. Dit is waarom ons ook plase kies om die fees op te hou, pleks van net op die dorp.”
Só wen wol
Hulle hoop die fees kan help om weer ’n woltekstielbedryf in Suid-Afrika aan die gang kry. Tans is Gerber & Co se wolverwerkingsaanleg wat in die Paarl opgerig is, die enigste in Suid-Afrika.
Sarah sê hulle hoop die fees sal mense inspireer om meer wol te gebruik en te verwerk.
Een van die vele hoogtepunte van die fees is ’n modevertoning in die veld waardeur hulle die mode terugbring na die boe
re toe. Ontwerpe van plaaslike en internasionale ontwerpers word daar ten toon gestel.
Die vroue sê die fees bied die grootste versameling wolprodukte wat jy op een plek in Suid-Afrika kan kry.
“Die gehalte van die produkte is wat ons fees uniek maak,” sê Marlize.
Die fees is daarop gerig om die publiek op te voed en mense te leer om minder produkte, maar van beter gehalte, te koop en besoedeling en vermorsing uit te skakel.
Die benutting van afvalwol word bevorder deur verskillende kompetisies, soos ’n wolkunskompetisie vir skole en die beste wolinnovasie wat OVK, die fees se hoofborg, aanbied.
Hou fees van plaas tot plaas
Die derde Karoo-winterwolfees word van 14-16 Junie op Middelburg en omliggende plase gehou. Dit is ’n fees waar feesgangers tussen verskillende persele moet ry.
Yolandi sê ’n deel van die identiteit van die fees is die feit mense werkende skaapplase kan besoek.
Die fees begin die Donderdag met ’n gala-aand vir genooide gaste op Middelburg.
Die werksessies en die mark begin die Vrydag, en Vrydagaand is daar ’n skuurdans of “wol-jol” in Rusoord se historiese wolskuur.
Saterdag is die groot markdag op die plaas Dwarsvlei. Benewens wol- en kosstalletjies word daar ook leersame praatjies spesifiek vir boere aangebied. Op vanjaar se fees sal boere ingelig word oor wat met hul wol gebeur ná veilings.
Op Dwarsvlei word ’n paar keer per dag skeer- en wolklasseringsdemonstrasies aangebied. Die wol word ook gespin en geweef en mense brei daarna artikels van die wol om die hele proses te wys.
Die werksessies wat op die fees aangebied word, is daarop gerig om by mense ’n waardering vir die prosesse en tegnieke waardeur wol verwerk word, te kweek.
Saam met die mark, skaaphonddemonstrasies en werksessies word ook plaastoere en bossietoere aangebied.
Dr. Loraine van den Berg, een van die min bossiekundiges in Suid-Afrika, leer besoekers meer van Karoo-ekologie, hoe die bossies lyk en hoe dit vir wolskaapweiding en menslike gebruik benut word.
Die vorige jare was daar ’n fietswedren en veldwedloop op die plaas Beskuitfontein.
Daar word ook met elke fees ’n geskiedkundige toer aangebied. Die eerste jaar is al die plaashuise wat deur sir Herbert Baker ontwerp is, besoek, en verlede jaar was dit ’n toer van Middelburg.
Die fees bied ook geleenthede aan inwoners van Middelburg. Benewens die verskaffing van verblyf en kosstalletjies, vind Hands on Africa, ’n liefdadigheidsorganisasie en toevlugsoord op Middelburg wat vroue leer brei as ’n manier om trauma te verwerk, daarby baat.
Nog ’n deel van die fees is St. Barnabas Anglikaanse Kerk se blokkiebreiveldtog. Breiers van reg oor Suid-Afrika brei blokdat kies en stuur dit na die fees toe. Komberse wat aan behoeftiges geskenk word, word van die blokkies gemaak.
Van die komberse word opgeveil om geld in te samel om gedurende vakansies kospakkies aan die Laerskool Midros se kinders te voorsien. Feesgangers kan by die fees in spesiale breigebiede sit en blokkies vir hierdie projek brei.