Die ander sê
EU kan boere nie vir altyd pamperlang
harde werklikheid buite Europese boere se gesubsidieerde kokon begin byt, skryf Ayabonga Cawe, hoofkommissaris van die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac), oor die onlangse boere-opstande reg oor die Europese Unie (EU).
Die opstande ontbloot onder meer die fantasie van selfvoorsiening waaronder Europese boere verkeer weens die manier waarop die CAP-subsidieprogram, wat nou al oor drie generasies strek, hulle beskerm het teen die onvoorspelbaarheid van internasionale mededinging, terwyl ekonomiese diplomasie aan hulle voorkeur-marktoegang in baie ontwikkelende lande gegee het. Dít het gelei tot ’n selfs meer dwarstrekkerige standpunt – die aandrang op groter beskerming plaaslik én die reg om uit te voer, selfs teen gestorte pryse.
“Oekraïense graan behoort te gaan waar dit hoort – aan markte in Afrika of Asië, nie Europa nie,” het ’n Poolse boere-unie onlangs gesê. Suider-Afrika was al aan die ontvangkant van dié sêding met die Suider-Afrikaanse doeaneunie wat verdedigingsondersoeke en tariewe moes instel teen Europese uitvoerders van pluimvee, pasta en bevrore tjips.
EU-boere in veral Frankryk se aggressiewe aanval op ’n beoogde vryehandelsooreenkoms met die Suid-Amerikaanse handelsblok Mercosur belig die feit dat die ooreenkoms sal meebring dat Suid-Amerikaanse produkte in Europa kan aankom sonder om aan streng EU-standaarde te voldoen. Dít, sê die boere, is onregverdige mededinging omdat die kostestrukture en regulatoriese voldoening wat van Europese boere verwag word, beduidend hoër is as dié van hul Suid-Amerikaanse eweknieë.
Die uiteinde van hierdie politieke kruispad kan die patrone van globalisering in die landbou onherroeplik verander.
Bedryf hou asem op oor mieliegradering-regulasies
Graan SA hoop dat nuwe en deursigtiger regulasies vir mieliegradering afgekondig sal word vóór die begin van die nuwe bemarkingsjaar in Mei. Dié regulasies moes in 2021 teruggetrek word nadat die meulenaarsbedryf daarteen vasgeskop het. Dit het veroorsaak dat die proses van voor af moes begin en die staat op grond van belanghebbendes se kommentaar en voorleggings ’n besluit sou neem. Dr. Dirk Strydom, Graan SA se hoof van bemarking, Nampo en navorsingskoördinering, het op ’n Graan SA-streeksvergadering op Ladybrand gesê voorleggings gegrond op wetenskaplike bewyse is aan die staat gedoen, waarna die graderingsveranderings goedgekeur en deurgestuur is na die Wêreldhandelsorganisasie (WHO). Die staat wag nou op terugvoer van die WHO, waarna dit verwerk sal word en die regulasies deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, goedgekeur sal word. “Ons oefen druk uit dat die nuwe regulasies voor die nuwe bemarkingseisoen kan deurgaan,” het Stydom gesê.
Hof gee beesboere gelyk in snotsiektesaak
“Al wat ek hieruit geleer het, is dat dit baie goedkoper is om ’n probleem uit te praat en mekaar tegemoet te kom wanneer daar ’n probleem is,” sê Mari van Rooyen, wat saam met haar twee bure, Sizwe Khoza en Frans Allers, almal beesboere, ’n regsgeding gewen het teen hul bure wat ’n wildplaas bedryf. Die wildboer-bure, Rhys Griffiths, sy seun Richard, en die ondernemings in wie se name die plaas geregistreer is, het tot rondom 2016 met beeste geboer, maar toe oorgeslaan na wild. Van Rooyen het skade van sowat R250 000 gely nadat haar beeste weens snotsiekte gevrek het. Twee van Allers se stoetbulle, wat saam R80 000 werd was, het ook gevrek. Die drie beesboere het vergeefs probeer om ’n vergadering met die Griffithse te belê. Die hof het beslis die Griffiths-familie moet binne 60 dae seker maak hul wildebeeste kan nie nader as 1 km aan die naasliggende beesplase kom nie, en hulle moet ook hul bure se regskoste betaal.
Agriparke herrys uit die dood
Nadat miljarde rande tydens die termyn van oudpres. Jacob Zuma bestee is aan agriparke wat weinig opgelewer het, beoog die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling nou om dié projek te laat herleef. Volgens die tesourie het die departement R9,9 miljoen van ’n tegniese hulpfonds vir middelinkomstelande ontvang om uitvoerbaarheidstudies te doen om finansiering te kry om twee agriparke in Noordwes en die Vrystaat te ontwikkel. Die gedagte is dat die agriparkemodel verwerking van landbouprodukte en die industrialisering van waardekettings vergroot deur veral opkomende boere se toegang tot varsprodukte- en ander markte te ondersteun. Sowat R2,1 miljard sal oor die volgende drie jaar bestee word om 62 infrastruktuurprojekte te koördineer.
Die wynbedryf
Kort op die hakke van ’n makro-ekonomiese ondersoek wat bevind het amper 40% van Suid-Afrika se wynprodusente boer teen ’n verlies, het Enoch Godongwana die bedryf in die 2024-begrotingsrede opnuut ’n opstopper gegee met ’n 7,17%-verhoging in aksyns op wyn en vonkelwyn, en ’n 6,67%-verhoging in die aksyns op brandewyn. Dit is ondanks uitgebreide voorleggings van South Africa Wine die afgelope maande aan die nasionale tesourie oor die bedryf se benarde posisie en noodsaaklike rol in die landelike ekonomie. Uit dié verhoging, 2,5 persentasiepunte meer as die verbruikersprysinflasie, sal die fiskus ’n bykomende R60 miljoen ontvang, waarmee 1 236 individue vir ’n jaar lank in diens geneem kon word, of navorsingsuitgawes verdubbel kon word.