Man Magnum

DIE FLUITE VAN ’N BAARDMANNE­TJIE

‘n Lewe gedefiniee­r deur jag

- Mafunyane Rossouw

IN DIE weke voor my pa se dood vertel hy my van die sondes van sy lewe. “Toe ek klein was, het ek ’n baardmanne­tjie met my kettie geskiet. Ons was honger en jy dink dis ’n groot voëltjie, en dan kom jy daar en dit is net ’n baardmanne­tjie. Dan voel jy darem maar sleg.”

As kinders het my pa vir ons gedigte voorgelees. Ons het Marais se Winternag in die Namib gehoor. Ons het Watermeyer in die Bosveld leer ken. In Watermeyer se Ballade van die bloeddorst­ige jagter kla ’n koor van verminkte diere die roekelose skut aan. Die wilde kanarie sê: “Ek kelk die sonlig in my keel / en rym die rondebessi­e ryp / met kinderhand het hy, het hy / die fluite uit ons bors gegryp.”

Ons geslag vergeet so maklik dat my pa-hulle uit die veld moes leef. Die dekades na die runderpes, na die Groot Depressie, na die Tweede Wêreldoorl­og het seuntjies met ketties kos vir die pot geskiet en palings uit die riviere gevang. My pa het die voëltjies wat hulle as kinders gejag het met heuning, varkvet, sout en peper ingesmeer. Hy het dit oor die kole gebraai of op die koolstoof gebak. Bye was volop en daar was altyd heuning. Daar was ook altyd varkvet, want die oumense het vleis en kaiings in varkvet gestoor. Soms het my pa as gebruik in plaas van sout en peper.

Ek en my broer het ook eers met ketties leer jag. My pa en my oupa het ons gewys waar om ’n mik te gaan sny, hoe om ’n vel te brei, om rekke op die dorp te gaan koop. Kettie maak is ’n kuns, dit is soek na die regte mik: simmetries, nie te nou nie, nie te oop nie, die regte hout, die regte ‘gevoel’. Swarthaak groei te krom, drolpeer vurk te dik, karee kan amper gaan, maar ons beste mikke het ons uit vaalbosse gesny. Elke hand ‘vat’ anders en daarom moet jy ’n mik toets terwyl hy nog aan die boom is. Elke mens het sy eie mik en elke kettie begin met die soeke na die boom by wie jy pas.

Na die kettiemik gesny is, moes ’n vel gebrei word en die rekke met rieme aan die mik gebind word. Wildebees en koedoevell­e brei te swaar. Vir ’n onbekende rede voel rooibok en springbok net nie reg met ’n klip in die hand nie.

Ons beste ketties was met duikervel gebind. Om ’n vel te brei moet koringseme­ls en melk eers die hare los vreet. Elke dag word hande in die bad met semels en melk ingedruk en klosse hare uitgetrek totdat net ’n stuk nat, wit leer oorbly. Daarna is dit die slaan teen ‘n boomstomp of ’n klip totdat die meeste water uit is. Dan is dit brei… oopgooi in die son, die smeer met botter… kortom, dit vat weke vir twee seuntjies om ’n duikervel te brei.

Ek wonder gereeld oor die jagtogte wat my pa deur die loop van sy lewe onderneem het. Ek weet nou van die baardmanne­tjie en van die resep vir duiwe, patryse en muisvoëls. Ek weet tarentale en fisante word in ’n pot met room of karringmel­k geprut. Ons vrieskaste was altyd vol koedoe, springbok, gemsbok, eland of wildebees vleis. Die behoefte om uit die veld te leef het my pa nooit verlaat nie.

Ek onthou hoe my pa vertel het van Oom Toeka, my oupa se broer. My pa, toe net tien jaar oud, en Oom Toeka het agter ’n miershoop gelê en sy hoed op ’n stok gesit. Hy het die stok in die lug opgedruk en gewikkel. Mettertyd het die wildebeest­e nader gekom. Wildebeest­e was destyds skynbaar veel meer nuuskierig as nou. Dit was noodsaakli­k om naby skote te vat want ammunisie was te duur om te mors.

En ek, waarom jag ek? Ek onthou ons het een namiddag in die veld gaan stap en die geweer saamgevat. Nie vir jag nie, net omdat die dra van ’n geweer soms al is wat die drif van bestaan laat bedaar. Ek onthou ons het die bosvarke by die brakgronde gekry, hoe my pa die .30-06 Ruger No.1 se blok oopgetrek en ’n koeël ingedruk, en die geweer vir my gegee het. Ek was dalk tien jaar oud. My pa het gesê: “Skiet diep uit jou skouer. Skiet diep uit jou hart.”

Later het my pa nie meer op sy plaas gejag nie. Die plaas het ’n ark geword. Ystervarke het wortels en koolkoppe op die stoep kom vreet. Hy het bene vir die bruin hiëna in die ou land gelos, elke dag kos vir die neushoring­voëls, pietkluitj­iekorrels, kolpensies, glasogies, muisvoels, katlagters en fisante uitgesit - vir elkeen na sy smaak. Hy het die slange om die huis gevang en hulle vêr weg gaan vrylaat.

In Uganda moes my pa ’n gekweste buffel skiet. Hy het vir die destydse S.A.U.K. ’n dokumentêr­e program verfilm oor die sjimpansee­s, die gorillas, die Ruwenzori gebergtes en die mens tussenin. In die Lake Albert omgewing jag die mense met spiese deur in bome langs uitgetrapt­e wildspaaid­jies vir diere te wag. Die spies word dan deur die dier se rug gesteek met die hoop om ’n long of ’n hart te deurboor. Een so buffel het nie gevrek nie, die wond het gesweer en die buffel het mense doodmaak en vermink en my pa is gevra om dié buffel te skiet. Ek wonder hoe hy gevoel het? Het sy hart vinniger geklop terwyl hy die spoor gevat het? Was hy senuweeagt­ig of bang? Wanneer die beeld in my kop afspeel sien ek my pa daar in die veld: geleende geweer, blou hemp aan, buffel met die wond in die rug. My pa het die dier seker maar net gaan skiet. Diep uit sy skouer, diep uit sy hart.

In die 1990s word die S.A.U.K. die S.A.B.C. en heelwat van my pa se geslag verloor hulle werk. My pa het voëlhokke op die plaas begin bou. Iemand het aan hom vertel dat ’n mens kan geld maak deur met voëls te teel en uit te voer. Elke dag, voor en na skool, gee ons kos vir duisende parkiete, kokketiele, ringnekpap­egaaie en voëls wat ek nie meer wil onthou nie - elkeen na sy smaak.

Een oggend val daar sagte reën . Die nuwe gryspapega­aie, wat geluide uit hul omgewing kan naboots, maak ’n ander geluid. Met ’n koffie in sy hand sê my pa: “Daar is ’n paddatjie in Uganda se woude wat so klink. Daardie papegaaie is in die natuur gevang.” Ses weke later is daar nie ’n enkele voël in ’n hok op Cyferfonte­in oor nie...

Drie-en-twintig jaar later word my pa met ongeneesba­re asbestose gediagnose­er. Hy het die voëlhokke uit asbesplate gebou. Een herfs vang my pa nog ’n luislang, een winter klim hy nog die duine van Sossusvlei en dra klippe vir sy rotstuin rond. Nege maande later kan hy nie meer self opstaan uit ’n bed of ’n stoel nie. Elf maande later kan hy nie meer loop nie.

In die weke voor sy dood skerts hy oor die sondes en die vreugdes van sy lewe. Hy kan nie meer sluk nie. Hy kan nie meer eet nie. Hy sukkel om asem te haal. Hy droom nog oor die gemsbokke in die Namib en die elande in die noorde van Namibië en hy sê: “Ek het gehoop daar is darem vir my nog so paar keer se jag oor”. Ek het hom uit sy bed opgetel en na die bakkie gedra, sy geweer gehaal en vir hom gegee.

Ons het vir oulaas gaan soek na die koedoebul wat jare terug nog bo in die sandveld geloop het, na vlakvarke wat na die komende reëns dalk in die panne sou kom rol, na bosvarke wat miskien by die ghwarriebo­sse sou bly. Ons het gaan soek na nog ’n bietjie lewe uit elke oomblik.

 ??  ?? My en Broer se beste ketties is uit vaalbos gesny en met duikervel gebind. Foto Lawrette Mcfarlane.
My en Broer se beste ketties is uit vaalbos gesny en met duikervel gebind. Foto Lawrette Mcfarlane.
 ??  ?? Bo:diebulisme­t ‘n spies gekwes en het die plaaslike inwoners op hol gejaag en verskeie vermink. (circa 1993).
Bo:diebulisme­t ‘n spies gekwes en het die plaaslike inwoners op hol gejaag en verskeie vermink. (circa 1993).
 ??  ?? Om uit die veld te leef was deel van my pa se lewe. Hier sit ek en hy by ’n Namib gemsbok. Foto Marianna Rossouw (circa 1986).
Om uit die veld te leef was deel van my pa se lewe. Hier sit ek en hy by ’n Namib gemsbok. Foto Marianna Rossouw (circa 1986).
 ??  ?? LINKS: My pa se mantra was eenvoudig: Uit elke oomblik, net nog ’n bietjie lewe – hierdie foto is in sy laaste weke geneem.
LINKS: My pa se mantra was eenvoudig: Uit elke oomblik, net nog ’n bietjie lewe – hierdie foto is in sy laaste weke geneem.
 ??  ?? Hierdie wildebees moes ek van vêr skiet. Die diere is skynbaar nie meer so nuuskierig oor ’n hoed op ’n stok soos in die ou dae nie.
Foto: Wessel van der Walt (2020)
Hierdie wildebees moes ek van vêr skiet. Die diere is skynbaar nie meer so nuuskierig oor ’n hoed op ’n stok soos in die ou dae nie. Foto: Wessel van der Walt (2020)
 ??  ?? Verfilming van Met Gifpyl en Kalbas, ‘n verhaal oor die San.
Verfilming van Met Gifpyl en Kalbas, ‘n verhaal oor die San.
 ??  ?? ‘n Storie oor die Skedelkusp­ark, verfilm vir die SAUK. Ek en my broer op die foto.
Foto: Marianna Rossouw (circa 1992)
‘n Storie oor die Skedelkusp­ark, verfilm vir die SAUK. Ek en my broer op die foto. Foto: Marianna Rossouw (circa 1992)
 ??  ??
 ??  ?? Wildsvleis was altyd stapelvoed­sel in my pa se huis - en vir sy kinders. Foto’s Marianna Rossouw (circa 1982 – 1984).
Wildsvleis was altyd stapelvoed­sel in my pa se huis - en vir sy kinders. Foto’s Marianna Rossouw (circa 1982 – 1984).

Newspapers in English

Newspapers from South Africa