Mossel Bay Advertiser

KKNK produksie in die kol oor droogte

-

Terwyl Dag Zero in 2018 vir Kapenaars wink het 'n dramaturg reeds in 2009/10 die scenario van 'n moontlike Dag Zero in 'n dramateks vasgelê.

In Bauke Snyman (48) se drama Swerfgoed is 50 liter water per dag per persoon al lankal vir niemand meer beskore nie. Water is skaarser as hoendertan­de en mense sal enigiets doen om dit in die hande te kry – selfs moord pleeg.

Hoewel Snyman Swerfgoed reeds sewe jaar gelede geskryf het, is dit nou eers opgeraap en debuteer dit vanjaar by die KKNK, wat van 29 Maart tot 4 April op Oudtshoorn aangebied word.

Dit is een van die suksesstor­ies van Kunste Onbeperk se 2017-Teksmark met verskeie vennote wat aan boord gekom het om die produksie ’n moontlikhe­id te maak. Boonop is dit ’n eerste vir die bekroonde aktrise Tinarie van Wyk Loots wat met Swerfgoed haar regiedebuu­t maak, met Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher in die rolverdeli­ng.

Snyman vertel dat hy waterskaar­ste eerstehand­s in Grahamstad ervaar het toe die munisipali­teit se infrastruk­tuur begin ingee het. “Vir dae was ons sonder water, of een deel van die dorp was kurkdroog en ’n ander deel was oorstroom as gevolg van die soveelste gebarste waterpyp. ’n Mens het nooit geweet as jy ’n kraan oopdraai of daar water gaan wees nie. Soms het daar ’n dik modderstra­al uitgeborre­l of ’n blasende, sissende droogheid was jou voorland.”

So het hy uitgekom by Motel Stillewate­r, waar ’n eienaardig­e spulletjie mense op ’n godverlate vlakte woon. Dit speel af in die toekoms en water is die duurste hulpbron op aarde. Ingeweef by dié verskrikki­ng van ’n werklikhei­d, is ’n magiese realisme.

Met die geweldige droogte en die dreigende Dag Zero kon die tydsbereke­ning vir Swerfgoed nie beter wees nie. Oor haar debuut as regisseur sê Van Wyk Loots: “Dit is alles net ongeloofli­k. Swerfgoed se tyd is nóú. Die hele span waarmee ek nou kan saamwerk, van die akteurs tot die ontwerper (Jemma Kahn). Daunting, ja, maar geweldig opwindend. Ook bevrydend.

“Dit is ’n cautionary tale. Hoe water ’n werktuig, ’n verskoning vir geweld word. Hoe dit die beste en die slegste in mense uitbring.”

Sy vertel van die kleurvolle ontwerp en inkleding, die klankbaan en die heerlike aweregse humor. “Swerfgoed steek die leeu met ’n skerp stokkie op sagte plekke, maar dit is ook entertainm­ent. Daar is iets vir oud en jonk, hoewel nie geskik vir kinders nie.”

Swerfgoed is op 29, 30 en 31 Maart sowel as 1, 2 en 3 April in die Gimsaal op die verhoog.

Die KKNK se volledige feesprogra­m is beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Computicke­t, Shoprite / Checkers en House & Home.

Verblyf bespreking­s kan by 044 203 8600 gedoen word.

 ?? Foto: Robert Hamblin ?? Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher deel die verhoog in Bauke Snyman se Swerfgoed, onder regie van Tinarie van Wyk-Loots, wat vanjaar by die KKNK debuteer.
Foto: Robert Hamblin Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher deel die verhoog in Bauke Snyman se Swerfgoed, onder regie van Tinarie van Wyk-Loots, wat vanjaar by die KKNK debuteer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa