Geen skrale troos
What a difference a day makes
Twenty-four little hours
Brought the sun and the flowers
Where there used to be rain
Dinah Washington se stem stoot soos ‘n bekende geur deur die huis, terwyl Suid-Afrika se nuwe president Cyril Ramaphosa die nasie oproep tot aksie tydens verlede week se staatsrede. Hoe baie het nie in ‘n week verander nie?
Goed of sleg, ons het ‘n mate van weerstand teen verandering. Dit laat ons gryp na die bekende vir vastigheid op die pad vorentoe. Toe my dinge deurmekaarloop vroeër vandeesweek, toe kook ek - die Februariehitte ten spyt - ertjiesop. Soos dié wat ek net in my ouma se altydskemer plaaskombuis op Albertinia geëet het. Selfs net die geur daarvan, was genoeg troos.
Die kopreis vat my verder tot in die spens waar outydse kolwyntjies in 'n koekblik gewag het. Nie vandag se fênsie cupcakes nie. Kolwyntjies met bont versiersuiker opgesmeer met ‘n mes. En bestrooi met kleurvolle hundreds and thousands wat afrol as jy dit na jou mond toe bring om te hap.
Wintertyd was daar altyd ‘n gestopte wildsboudjie, gespaar vir die kleinkinders ver uit die Vrystaat. Dan sou Oupa stories uit die jagveld vertel en Ouma aanmaan dat dit weer tyd is vir sy legendariese Queenspoeding, ‘n reusebroodpoeding wat hy in ‘n yslike metaalskottel voorberei het.
Vir uitstappies die berge in om te gaan fynbos pluk of na Gouritzmond se ruwe rotspoele toe, is kerrieafval ingepak. ‘n Gewyde oomblik was dit terwyl jy wag vir jou deeltjie van die harsings - versigtig toegebind en gaargemaak in die klein pensie.
Oupa het graag met ons gekuier van plaas tot plaas agter anysbeskuit aan. Soms het sy paaie tot op Riversdal geloop vir ‘n uitsoekrosynetert. Só soet van die rosynestroop dat dit jou keel brand. In Herbertsdale het ons saam met hom vaal patats in die lande gaan uitskoffel. Gebak, het jy sommer die boonste punt afgehaal, ‘n lepel daarin gesteek en heeldag tussen die speel op die werf deur, daaraan gepeusel.
Op reëndae het die AGA-stoof geduldig gewaak oor die souskluitjies in sy warm maag. Souskluitjies van melktertpap, gespikkel met kaneel en goudgeel, gesmelte botter wat in dun paadjies daaroor loop.
By die laaste stop duskant Colesberg, net voor ons die Oranjerivier sou oorsteek op pad huis toe, was daar immer dieselfde ritueel. Die laaste pampoen- of lewerkoekie wat Ouma ingepak het is gebêre en by die stilhouplek links van die grootpad geëet. In stilte, amper soos nagmaal.
Padkos. Piekniekkos. Tuiskomkos. Kontreikos.
Trooskos.
Sonder herinneringe daaraan, sou die lewe onleefbaar gewees het.
Dit is immers 'n betroubare breekwater. * Stuur jou herinneringe aan trooskos aan cornelle@groupeditors.co.za