Not in my backyard
Sy stap soos ‘n likkewaan met ‘n swaai-swaai lyf. As sy water gedrink het, sleep haar lang, slap ore nat strepe oor die vloer. Daardie einste ore, die grootste in die honderyk, is ingestel op selektiewe gehoor, ‘n kenmerk van dié ras.
Vir blaf is sy nie bang nie, maar vir haar eie skaduwee wel. En waar sy loop lê, daar lê sy. Sou jy haar wou beweeg, moet jy haar dra of met bed en al sleep. Pak padkos in vir ‘n stappie langs die see, want as sy moeg word, beland sy op haar sy en verseg om te beweeg tot sy uitgerus genoeg is om verder te stap.
Dit alles ten spyt, is my Bassethond my hart se punt. As jy voel jy moet jou tempo in die lewe aanpas en ‘n paar lesse in lankmoedigheid leer, kry vir jou ‘n Basset.
Dit was nie maklik om verlede week die foto van ‘n uitgeteerde, brandsiek hond wat boonop gely het aan die hand van ‘n minderjarige kind te sien en toe te deel met die lesergemeenskap nie.
Gedurende die week, is ek as deel van die redaksiespan, deur verskeie mense tromp-op geloop en gekapittel oor die onsensitiwiteit daarvan. Maar dit moes gedoen word, omdat die mishandeling van die dier maar net ‘n simptoom van ‘n veel, groter, wranger werklikheid is.
Daar is net te veel onreg teenoor die weerloostes onder ons vir ons om ons koppe horende doof en siende blind in die sand te bly druk.
Lede van die gemeenskap vertel Maandag hoe hulle onverpoosd na ‘n “vermiste” kleuter gesoek het, wie se ma klaarblyklik te “ver heen” was om te onthou dat sy haar kind vrywillig saam met ‘n ander vrou laat gaan het.
Dinsdagoggend ontmoet ek ‘n seun (8) met ‘n spontane glimlag, desondanks wat hy die vorige dag beleef het. Sy gesiggie is lewendig, maar die weefsel rondom die linkeroog geswel en gekneus waar sy pa hom geslaan het.
Oor ‘n geskeurde sak suiker.
Die woongebied wat ons Woensdagoggend binnery waar ‘n beseerde kind (8) alleen in ‘n shack toegesluit was, is soos die foto van die hond op die voorblad - ‘n skokkende gesig. ‘n Kleuterdogtertjie in pienk verskyn in ‘n voetpaadjie.
Sy waai vriendelik, trek haar fraai valletjiesrompie op, hurk en urineer. Sy het nie ‘n onderbroekie aan nie. Haar voetjies word nat. Dit pla haar nie. Toe sy klaar is hardloop sy vrolik agter haar ma aan.
Iemand het eenkeer gesê party kwessies is soos weerlig. Jy wil nie noodwendig daarna kyk nie, maar jy kan nie help om dit te sien nie.
Daar is te veel verkeerde goed in ons gemeenskap wat soos weerlig rondom ons slaan. Al wil ons nie, moet ons kyk, kennis neem, weet - want ook dít, is doen. Anders, in effek, kan ons maar net sowel deelneem aan die afknou, die afskeep, die verwaarlosing.