Voedselproduksie behoort hoogste prioriteit te wees
[Copy] Piet te Groen, skryf:
Die erge tirade van JH Strydom (MBA 1/062018) omtrent die nuwe poging om ’n visplaas in die Baai te vestig, verdien kommentaar om daardeur te wys op hierdie onbesonne reaksie op ’n verdienstelike groeipoging vir Mosselbaai.
Strydom se gebruik van syfers klop glad nie; hy het dit seker nou al self opgelet. Daarbý bied hy in oordrewe terme die nadele van so ’n visplaas aan asof dit elke ander funksie en diens van Mosselbaai gaan afbreek. Ek stem glad nie met so ’n negatiewe uitbeelding van ’n verdienstelike bedryf saam nie.
Voedselproduksie behoort in hierdie land van ons altyd een van die hoogste prioriteite te wees.
Die bevolkingsgroei, hetsy natuurlike aanwas of onbeheerste immigrasie, noop ons almal om met die armoede (uitgedruk as "honger mense"), wat daar heers, rekening te hou. So ’n visplaas kan sy bydrae in hierdie verband lewer. Die destydse afskiet van die 2010 visplaasaansoek het daartoe bygedra om ’n groeivoordeel vir Mosselbaai in die niet te laat verdwyn.
Die onwetenskaplike toestaan van visvangkwotas deur die owerheid oor lange jare het in elk geval ons visbronne hier en oral langs ons kus sodanig uitgeput dat dit slegs met die ontwikkeling van visplase in ’n mate sal kan “herstel” en sodoende voedsel aan baie honger mense sal kan voorsien.
Dit sal ’n kwade dag wees as hierdie aansoek weer eens afgeskiet gaan word. En dit vir sentimentele redes (toegedraai in sogenaamde omgewingsbeskermingsargumente) wat nie enige duit tot die gesonde bestuur van hierdie land en sy benutbare hulpbronne bydra nie.
Om met vis in die see te boer, is gelyk aan volstruise/skape en wat nog op land. Ons kan nie soutwater en nuttelose fynbos ten alle koste beskerm nie. So ’n eng benadering is gelykstaande aan die konsep om die verlede ten alle koste te herstel en te behou, terwyl mense om ons dood van honger.