Jordan die gunsteling
Die sakemannedag wat op Woensdag, 30 Mei op ons mooi gholfbaan plaasgevind het, het 144 spelers baan toe gelok. Die gesoute egpaar kombinasie van André en
Cynthia Zietsman het vrugte afgewerp en na die uittel het hulle op 49 punte die beterbal stableford-kompetisie gewen. Barries Barnard en Pierre Botes, ook 49 punte, het self die pap dik aangemaak en die tweede plek ingeneem.
Die heerlike vleispryse het ook die volgende spelers breed laat glimlag: Markie Sciarone en en die 84-jarige Colin Buck (47 punte), Louw du Toit en André Zeelie (47 punte), asook ‘n horde spelers op 46 punte, naamlik W Vorster en C Pinto, S le Roux en E Scheepers, S Morrison en W Pretorius, W Melville en R Smit, G Botha en G Greyvenstein. Opregte dank aan die groep sakemanne wat maand na maand hierdie dag moontlik maak.
Saterdag
Saterdag. 2 Junie het 136 spelers mekaar die stryd aangesê in die moeilike gekombineerde stableford-kompetisie. Sukses kan net behaal word as
beide spelers goeie tellings aanteken. Sakkie van der Merwe en Arthur Percival het hierdie moeilike hekkie oorgeseil en op 75 punte het hulle hul naaste teenstanders ver agtergelaat.
Jacques Smith en sy spookmaat het 69 punte bymekaargeskraap en tweede geëindig.
Nico Pienaar en Skippie Scheepers
(68 punte) het derde geëindig en hulle teenstanders in die winteruitklop-kompetisie totaal oorrompel. Hulle verpletterde teenstanders het versoek dat hulle name nie genoem word nie. André Zeelie en Chris van den Berg kon ook Saterdagaand ‘n vuurtjie aanslaan, want op 65 punte het hulle die vierde plek ingeoes.
Winteruitklopreeks
Die winteruitklopreeks is in volle swang en deelnemers word versoek om betyds reëlings vir hulle uitspeelwedstryde te tref. Die prestigeryke Top16-uitklopreeks het ook afgeskop en ‘n verbete stryd word verwag met Jordan Duminy op hierdie stadium die groot gunsteling.