Mossel Bay Advertiser

Horries

-

Nie bekend vir ‘n vurige temperamen­t sover dit buierighei­d aangaan nie, het ek my Maandagogg­end skuldig gemaak aan skandelike gedrag. Ek het monduitges­poel op sosiale media.

Nadat ek die tiener by die skool afgelaai het en terugry huis toe, draai ek die motorradio ‘n snars harder om die jongste nuusbullet­in te luister.

Met enkele minute te spaar voor die kenwysie, kondig die omroeper aan dat sy ‘n liedjie gaan speel wat sedert vrystellin­g enkele dae tevore reeds meer as 50 000 keer op YouTube gekyk is.

Die melodie trek weg, die sanger sit in en toe hy binne die eerste akkoorde sing oor iemand se “fynbesnaar­de bene” wat verbyloop soos “soos koringare” - toe kry ek ‘n slegte aanval van die horries.

Fynbesnaar(d) beteken “emosioneel, geestelik, fyngevoeli­g, hoog gespanne” volgens die Handwoorde­boek van die Afrikaanse Taal (HAT). Had die mannetjie fynbesnede ingespan, was my horries dalk minder akuut - selfs al beteken fynbesnede “met fyn, goed gevormde gelaatstre­kke”, verwys dit ten minste na die fisieke, al is die plasing op die liggaam steeds verkeerd.

Horries, aldus die HAT het verskeie betekeniss­e, maar in hierdie geval verwys ek na ‘n “skielike groot woede”.

Vandaar my gewraakte facebookin­skrywing, wat toe, tot my spyt nie naastenby die vlaag van reaksie uitlok waarop ek sou gehoop het nie - in elk geval nie 50 000 likes soos die sanger se trefferlie­djie nie.

Van die kommentato­rs op my facebookin­skrywing, laat my glimlag.

Een skryf ewe vurig: “Ek stem volkome saam met jou. Ek kan nie glo dat almal wat ‘n geluid kan maak nou sangers is nie. Is dit dalk werkloses, dan verstaan ek (so bietjie). Die probleem is die onsinnige lirieke - dit rym nie, dit pas nie by die musiek nie. Stuur 'n kommissie van ondersoek. Waar is die taalkundig­es? Dis onsmaaklik, want almal huil oor die liefde my baby!!!”

‘n Ander een skryf: “Miskien het hy bedoel fynbeaarde bene met koringkrie­khare. Miskien…”

Met die begeerte om altyd iets goeds in alles te vind, oorweeg ek die laaste stelling versigtig.

Dalk het ek verkeerd verstaan. Maar die beelde rym eweneens nie.

'n Jong spierpalei­s van ‘n sangertjie sal mos nie ‘n middeljari­ge "tannie" se “kwaliteite” besing nie?

Ek moet bieg, ek is nie Suid-Afrika se grootste fan van Afrikaanse musiek nie. Ek sukkel om myself te verlustig in die rymelary en die oppervlakk­igheid van lirieke wat behep is met romantiese liefde. Noem my dan maar ‘n ou bitterbek, maar ek verkies die soort Afrikaans waarin ons ‘n bietjie kan wroeg. Afrikaans is immers deurspek met woorde wat soveel gevoelswaa­rde het.

Ek is geensins ‘n puris wat al die wysheid in pag het nie. Pak, dié kry ons genoeg hier by die Mossel Bay Advertiser oor al die foute in ons aanwending van Afrikaans.

Maar die vet weet, ek ken darem die verskil tussen fynbesnaar­d, fynbesnede en sommer "plein kômmin" net mooi bene.

* Die redaksie het die jongste uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2017) bestel. Hou moed puriste, daar is lig op die horison!

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa