Boek laat argitek homself weer ontdek
Fanus Buys se mikpunt was om tot op 75 as argitek te werk. Om, in sy eie woorde, “beleë te kan wees, om te kan oud word in die game, sodat die jonges van sy kennis kan kom tap”.
Dit was hom egter nie beskore nie. Toe hy in 2011 sy kantoor moes agterlaat om ‘n spesialis vanweë ‘n breingewas te sien, is hy nooit weer soontoe terug as argitek nie.
Maar, desnieteenstaande drie breinoperasies en ‘n gewas waarmee hy glo maar moet vrede maak, het hy waarskynlik ‘n selfs groter nalatenskap geskep as dit wat hy in sy loopbaan in Mosselbaai tot stand gebring het. Fanus het op 22 November sy tweede boek, Karoo-nostalgie - die groter verhaal, in Mosselbaai bekendgestel. Met ‘n handjievol gaste, het Fanus sy besonderse reis om hierdie boek te skep, gedeel. Die joernaalprogram,
Kwêla het ook ‘n filmspan gestuur om met Fanus oor hierdie uitnemende projek te kom gesels.
“Ek weet nie wat hulle met die ure se materiaal gaan maak om dit in ‘n paar minute ingepas te kry nie,” lag Fanus tydens ‘n gesprek met die Mossel Bay Advertiser by die Buyse se huis in Harry Miller-straat. En dit ís so. Want tussen Fanus en sy ewe knap, skeppende vrou Salomé, is daar ryke stof.
Langs ver paaie terug
Fanus was vroeg reeds gefassineer deur argitektuur. Met sy Molteno-blokkies, die voorloper van Lego, het hy hom uitgeleef. Later, op hoërskool, het sy voorligtingonderwyseres sy belangstelling verder met boeke en tydskrifte gevoed. Sy pad was uitgestip. Op ‘n argitekvriend se aanbeveling het die Buyse in Mosselbaai beland, waar Fanus diep spore in die ontwikkeling van veral Diasstrand getrap het. Kuiertyd as kind in die Bethulieomgewing, het die Karoo-landskap egter in sy wese vasgelê. “Ek sê ek moet altyd deur die Karoo reis om my mind te change,” skerts hy.
Vóór die Karooboek, het hy nog ‘n boek, Mosselbaai - wat was, wat is en wat kan wees, die lig laat sien.
Die sketsery, het hy tydens die bekendstelling verduidelik, het ná sy operasies begin toe sy dogter vir hom in 2012 ‘n tekenboek gegee het. Aanvanklik het dit glo maar moeilik gegaan, vanweë die aanvanklike skade aan sy brein, maar, vertel Fanus, toe hy hom weer kon kry was hy “sonder brieke”.
Die neuroloog wat hom behandel se opinie was dat die sketsery die beste fisioterapie denkbaar vir sy brein is. Met die Karooboek, het Fanus dit ‘n stappie verder geneem en sy ander groot liefde, om te skilder met waterverf, ingespan.
Omvattende werk
Hoe verder die proses gevorder het, het Fanus meer en meer begin delf, veral in die geskiedenis van hoe die Karoo, ‘n landskap omring deur berge, tot stand gekom het. Uiteindelik, meen Fanus, is sy boek, kultureel, histories, selfs biografies. “Ek het myself weer ontdek in die proses.”
Dis meer as net ‘n nostalgiese terugblik op sy kinderjare, dis ‘n unieke samestelling van volblad waterverfskilderbeelde gemeng met ‘n deurdagte teks. Alles is gebaseer op Fanus se agtergrond as argitek, met besonderhede oor aspekte soos kennis van die streek, karakter, geologie, topografie en plantegroei. Ook die Karoo-mense, maak ‘n buiging in die boek.
Bo en behalwe dié spogboek, is daar ook kaartjies, almanakke, kussingoortreksels en geraamde sketse van die werke beskikbaar.
Met ‘n handjievol gaste, het Fanus sy besonderse reis om hierdie boek te skep, gedeel.
Bevoorreg vorentoe
Hy glo die Here het al hierdie dinge met hom laat gebeur en op dieselfde wonderbaarlike manier, alles weer vir hom laat voortgaan. “En om te dink, dit alles het tot stand gekom tydens ‘n proses om myself eintlik net besig te hou.”
Hy is van gedagte om ‘n trilogie te skep. “Ek sal sien wat die tyd sal bring. Die Here sal my wys.”
Want bo alles, bly hy en sy Salomé sê Fanus is ‘n bevoorregte man.