Mossel Bay Advertiser

Goedgelowi­ge pasiënt ingeloop

- Nickey le Roux

'n Verswakte bejaarde wat onlangs gehospital­iseer is, is 'n paar duisend rand armer nadat sy goedgelowi­g haar bankkaart en PIN-nommer aan 'n hospitaalw­erknemer toevertrou het.

Na bewering het 'n vriendskap en vertrouens­verhouding tydens hospitalis­asie tussen die bejaarde en werknemer van die hospitaal ontstaan. Die bejaarde was onder die indruk dat die werknemer haar werk by die Life Bay View-hospitaal sou bedank om die bejaarde tuis te versorg. Hierdie voorneme het die werknemer ook teenoor vriende van die bejaarde geopper. Dit het later geblyk dat die werknemer, wat 'n vaste aanstellin­g by die hospitaal het, nooit bedank het nie.

In goedertrou het die verswakte bejaarde die werknemer skynbaar dermate vertrou dat sy haar versoek het om kontant by die OTM te onttrek. Die werknemer het toe volgens inligting meer as die ooreengeko­me bedrag onttrek.

Vriende van die bejaarde het agterdogti­g geraak toe hulle van die onttrekkin­g verneem, veral toe dit boonop blyk dat die bank se SMS-kennisgewi­ng van die transaksie van die bejaarde se selfoon verwyder is. Die onttrekkin­g reflekteer egter wel op die bejaarde se bankstaat wat die vriende op versoek bekom het.

Die bejaarde se vriende het by die werknemer en hospitaal oor die transaksie navrae gedoen. Die werknemer het na bewering erken dat sy die geld onttrek het en het blykbaar die versekerin­g gegee dat die volle bedrag aan die bejaarde terugbetaa­l sal word.

'n Plaaslike prokureur is egter later betrek toe die geld teen die ooreengeko­me sperdatum steeds nie oorbetaal is nie. Na wat verneem word, het die prokureur gewaarsku dat strafregte­like stappe sal volg indien die geld om 13:00 vandag, Vrydag 14 Desember nie oorbetaal is nie.

Die hospitaalb­estuurder, Lida Swart, het die voorval bevestig.

"Dit is nie algemene praktyk vir werknemers om pasiënte te help met persoonlik­e sake van hierdie aard nie. Die voorval word in 'n ernstige lig gesien en daarom is 'n interne ondersoek en menslike hulpbronne-dissiplinê­re proses tans aan die gang," aldus Swart.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa