Mossel Bay Advertiser

Klawerklan­ke by Klassique

-

Liefhebber­s van klawermusi­ek het hope om na uit te sien by hierdie jaar se Klein Karoo Klassique tussen Donderdag, 8 en Sondag, 11 Augustus op Oudtshoorn.

“Die program bevat ’n variasie van musiek, van klavier, tot orrel en marimba – uitgevoer deur bekroonde kunstenaar­s in beide solo-uitvoering­s en as begeleiers vir ander musici,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van dié fees.

Plaaslike pianis Sulayman Human keer terug na sy tuisdorp in When poets speak op Vrydag, 9 Augustus om 14:30. Die inhoud van sy program is geïnspiree­r deur donker poësie, asook dapper poësie, waaronder Gaspard de la Nuit deur Aloysius Bertrand en Divine Comedy deur Dante Alighieri.

Op Saterdag, 10 Augustus om 14:30 speel Erik Dippenaar orrelmusie­k in Transkriba­rok, met transkrips­ies van gewilde orkeswerke uit die Barok-periode. Die program sluit Handel se Musiek vir die Koninklike Vuurwerke, Watermusie­k en Die Aankoms van die Koningin van Skeba in. Dippenaar is ’n multi-bekroonde kunstenaar en tans artistieke direkteur van die Camerata Tinta Barocca, ’n Kaapstadge­baseerde barok-ensemble wat reeds twee keer vantevore by Klein Karoo Klassique opgetree het.

Theart vertel verder dat Klassique vanjaar vir die eerste keer sedert 2015 ’n galakonser­t aanbied, waartydens die gehoor klaviermus­iek deur die jong Qden Blauw gaan hoor. “Ons is baie opgewonde om vir Qden by Klassique te verwelkom. Hy het reeds verskeie pryse gewen en is op 15-jarige ouderdom die jongste solokunste­naar wat tot dusver by dié fees opgetree het.” Blauw lei die Galakonser­t se program op Saterdag, 10 Augustus om 19:00 in. Die gehoor kan verder uitsien na klavierbeg­eleiding vir die drie soprane - Minette du Toit-Pearce, Lynelle Kenned en Janel Speelman – deur Philippus Hugo.

Klassique sluit op Sondag, 11 Augustus om 14:30 af met ATKVVirtuo­se in konsert wanneer pianis MeganGeoff­rey Prins, wenner van ATKV-Muziq in 2016, vir bariton Bongani Kubheka en saksofoons­peler Cameron Williams begelei. Prins se vingerdans­passies op wit-en-swart klawers het hom al verskeie toekenning­s besorg.

’n Spesiale kaartjiepa­kket, moontlik gemaak deur die ondersteun­ing van die Rupert-musiekstig­ting, stel feesganger­s in staat om elke noot by Klassique te hoor en boonop R240 te spaar. “Feesganger­s moet gou speel vir hul pakkette, aangesien dié aanbod uiters gewild is en ook vinnig uitverkoop,” sluit Theart af.

Die volledige feesprogra­m is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicke­t, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicke­t. com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za.

 ??  ?? Sulayman Human Foto verskaf
Sulayman Human Foto verskaf

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa