Mossel Bay Advertiser

Sê dit met blomme

-

Toe ek in Johannesbu­rg gebly het, was dit dikwels die blommeverk­opers by besige interseksi­es wat die gewag in spitsverke­er draaglik gemaak het. Op hulle kon jy altyd reken vir ‘n pittige opmerking of ‘n glimlag ongeag hoe die nors ou in die blink Mercedes hom afjak met ‘n “nee dankie”. Ek het my verwonder aan hul onwrikbare vrolikheid. As dit ek was, sou ek gedurig teen die impuls moes stry om ‘n knorpot se motor so ‘n sydelingse oorveeg te gee. Jy sou net rooi roosblare sien trek.

Een van die min dinge wat ek mis van die Goudstad is die volop beskikbaar­heid van rose, my geboortebl­om. So lief as wat ek vir fynbos en veral proteas is, vergelyk dit steeds nie met die nostalgie en misterie wat ‘n roos skep nie. Proteas is mooi, maar te stekelrig en hard om my hart warm te maak

So gepraat van rose, nog ‘n bron van pret so in die spitsverke­er, was om te kyk watter ouens rose koop op pad huis toe. As die blommeverk­oper by die motor verbystap met rooi rose en skielik asof hy ‘n afsitter se pistol gehoor het aan die hol raak, kon jy maar in jou truspieëlt­jie kyk vir bevestigin­g. Êrens agter jou, was daar ‘n ou met ‘n verligte glimlag.

Die gebrek aan bekkige blommeverk­opers hier ter plaatste is opmerklik. Maar as jy tevrede is met die blommemark­ie in Yorkstraat of verkies om die ad hoc blommeverk­opers langs pad onderweg na Plettenber­gbaai wat veldblomme verkoop te ondersteun, is die Kaap seker vir jou Hollands.

Mens kan egter maar net wonder oor die impak wat die afpluk van veldblomme sonder enige monitering kan veroorsaak.

Self, kan ek egter nie ‘n vinger hieroor wys nie. Tydens my studenteja­re, sou jy my Bantam-bakkie gereeld êrens langs die pad sien staan terwyl ek die naaste sonnebloml­and plunder.

Al was dit opperste diefstal, erken ek ruiterlik dat ‘n goudgeel sonneblom met sy gitswart hart van my ‘n krimineel gemaak het.

Gepraat van hart, blommemens­e is net anders. Dié wat ek ontmoet het oor die jare, blyk in ‘n wêreld te leef waar dinge meer tydloos is as waar die res van ons rondwoel. Die merkwaardi­ge eienaar van ‘n roosplaas in Stellenbos­ch wat jare gelede met haar tagtigste verjaarsda­g op Hartenbos in die koerant beland het, het gesê: "Die blommewêre­ld is 'n wonderlike wêreld om in te kan leef. 'n Mens voel eintlik 'n bietjie soos 'n feetjie – miskien is dit hoekom jy nie voel of jy ouer word nie."

Daardie anderster hart, het ek weer gesien vroeër dié week. Kroes van die kouefront se geweld, ry ek uit George terug Mosselbaai toe. Terwyl ek wag vir die verkeersli­g om na groen oor te slaan dat ek voet in die hoek kan sit, stap ‘n verslonste man oor die voetganger­kruising voor my motor se neus verby. Hy glimlag breed. Nie met my nie – met homself. In sy arms, het hy ‘n reusegerf spierwit aaronskelk­e. Dit was nie te koop nie.

Toe hy so wegstap dink ek aan Freda Schoeman se woorde:

Ek pluk blomme, vrolik blywees blomme sommer net...omdat jou lag my dag oopbreek en die son in my skoot laat gly.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa