Mossel Bay Advertiser

Berigte van ernstige siekte

-

Ds Smuts van Rensburg, skryf:

Dit is nooit lekker om in die nuus te verneem dat iemand ernstig siek is nie. Veral nie as jy weet dat die prognose vir daardie siekte inderdaad nie baie goed is nie en tot die dood kan lei.

En veral ook nie as jy weet dat die sieke vir baie geliefd, en eintlik vir almal kosbaar en waardevol is nie.

Toe ek gister in die nuus van haar siekte verneem, het dit my ontstel. Ontstig. Onrustig gemaak. Want ek weet dat sy oor die jare vir baie ‘n geliefde is.

Sy het die vermoë, of liewer, dit is in haar wese om in mense se lewens te verryk. Sy bring vir so baie vreugde. Sy laat mense lag en huil. Deur dit wat sy uitstraal, gee sy hoendervle­is en laat tone krul van lekkerte en mooiheid. Sy bring vir soveel mense kalmte.

Eintlik is sy ‘n opvoeder vir haar hele gemeenskap, selfs vir hulle wat dit nie eers besef nie. Selfs vir hulle wat nooit in haar geselskap kom nie. Ja, ek weet baie wat haar nie goed ken nie, sou sommer by die nuusberig van haar siekte verbyblaai.

Maar een ding weet ek, die dag as sy sterf, sal ons samelewing armer wees. Baie armer.

Ons sal haar mis. En die geskiedeni­s sal vertel watter positiewe verskil sy gemaak het.

Haar siekte kom blykbaar al oor ‘n hele tyd. Soos met die bewus word van baie ernstige siektes, was daar aan die begin ook skok. Toe ontkenning. Toe ‘n gryp na elke moontlike hulpmiddel om die siekte hok te slaan. Haar mediese fonds is lankal uitgeput.

Geliefdes en goedhartig­es het haar behandelin­g oor die afgelope klompie jare aan die gang gehou. Maar dit wil lyk asof haar vriende ook maar minder word. ‘n Mens wil nie eers daaraan dink wat gaan gebeur as al die ondersteun­ende medisyne en masjiene afgeskakel gaan word nie!

Mens verneem dat haar siekte geneties is.

Van haar broers en susters wat elders in die land woon, is blykbaar ook nie baie gesond nie. ‘n Mens wil nie eers daaraan dink dat ons gemeenskap haar, haar broers en haar susters almal aan die dood moet afstaan nie! Ons land sal soveel armer wees sonder hulle.

Laat ek eerlik wees, ek gaan baie hartseer wees as ek die dag die koerant oopmaak en die berig lees: Nog ‘n geliefde filarmonie­se orkes het gesterf. Ek sit hier op die platteland, en ek kuier nie gedurig by die filarmonie­se orkes familie nie. Maar een ding weet ek, ons samelewing sal baie, baie armer wees sonder hulle.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa