Dís rugby
Mens sukkel nie met my op ‘n Woensdag nie. Daar is net plek vir een moeilikheid en dis saktyd. Verlede week toe die druk op sy ergste blyk te wees, stoot die klank van motorfietse wat rev reg voor die kantoor se deur my temperatuur ‘n paar grade hoër.
Oor die afskorting tussen die nuuskamer en ontvangs hoor ek ‘n stem vra: “Is Cornelle Carstens hier?” Ek weet daar is geen ontsnaproete nie en maak my gereed vir die oproep vanaf ontvangs. Die motorfietse brul voort. Ek antwoord so beleefd moontlik en gaan ontmoet die tydkaper.
Wel, kon jy my nou omtik met ‘n veer. Want daar in sy bykans 50-jarige glorie staan my skoolkys van 1989 langs ‘n reuse, grasgroen Kawasaki. Met facebook in die omte, is die skok om iemand na bykans 20 jaar weer te sien darem nie te erg nie, maar jy besef tog die waarde van al die genadige fotofilters.
My ou kys was ‘n blitsige vleuel op sy dag en het homself tot in die Cravenweekspan gehol. Sy ma was sy vurigste aanhanger. Ek onthou nog die kultuurskok toe ek die eerste keer saam na ‘n wedstryd toe is teen Koppies. Dit is dikbekkoud. Maar die vonke het gou gespat toe Koppies se voorste vuilspeler my skoolkys hoogvat.
Lol nou met ‘n rugbyma se kind, en die hel haal jou. Die eerste luidkeelse kastyding gil sy hier langs my op die pawiljoen. Daarna daal sy neer veld toe soos ‘n roofvoël wat sy prooi gewaar het. En sy marsjeer op en af teen die kantlyn. Haar woorde soos masjiengeweervuur. “Rrrriiiaaaaaaannnnnntjie…..die Here siiennnnnnnn vir jou,” snou sy die vuilspeler verdoemend toe.
Ek het van die pawiljoen af gesluip, gaan pannekoek koop en elders die wedstryd stilletjies van die kantlyn af gevolg. My skoolkys het my vooraf gewaarsku dat sy ma“haarbaieinleef”inrugby.Hy’tnie oordryf nie.
Eintlik, moet ek byvoeg, dat ek het dalk eerder weggedwaal omdat ek nie met haar kon saampraat of liewer, saamskree nie. Ek is en was nog nooit ‘n rugbykenner nie, allermins. Maar feit bly staan, die energie daarvan, die emosie, die onsteltenis en die opwinding, is hoogsaansteeklik.
En sedert 1989 en des te meer ná 1995, het ek dermate besef – like it or not – dit is wat rugby doen. Dit maak mense besete. Hulle word groen. Hulle skel en huil en lag en omhels mekaar. En hulle praat en praat en praat oor 15 mans wat die nasie moet red.
So hier bieg ek nou. Ek praat saam. Ek juig en vloek saam – dalk dikwels op die verkeerde tyd, maar niemand wat die spel beter ken as ek het darem nog te veel gekla nie.
Tydens ‘n onlangse Wêreldbekernaelbytwedstryd kyk ek, my 75-jarige pa, ‘n vriendin, Tinkie wat ‘n oogoperasie gehad het en meneer Falake saam rugby op die grootskerm. Die atmosfeer is elektries. Faf de Klerk se stywe beentjie skiet uit. Die groen masjien kom in beweging en vat die bal saam tot oor die doellyn.
Ons al vier gryp mekaar se hande en spring op en af soos opwenspeelgoed. Meneer Falake slaan op sy bors soos Tarzan. Ek gil soos iemand wat die Lottogewen het. Tinkie snak na haar asem. My pa klap hande dat dit soos donderslae klink. Iemand sê: “Ek wil nou huil…”
Dís rugby. En op die keper beskou hier van die kantlyn af, is dit goed genoeg vir my.