Drankdilemma is ‘n dubbele slag
Drankwinkeleienaars sit nie net hande in die hare oor die verlies aan inkomste as gevolg van die jongste opskorting van alkoholverkope nie. Hulle moet boonop ook die verlies van voorraad wat verval, dra.
Julian Merkeur, bestuurder van 'n drankwinkel op Riversdal sê sake lyk nie rooskleurig nie. "Sommige verspreiders neem voorraad terug, maar ander weier. Ons het reeds 'n klomp geld met die vorige verbod verloor en dit lyk of dit dié keer nog meer gaan wees, want selfs nie al die koeldranke word teruggeneem nie."
Volgens Johannie Vermeulen wat saam met Adolf Botes mede-eienaar van Stilbaai Kelders is, het hulle dieselfde probleem met verskaffers. "Met die vorige verbod het ons vooraf waarskuwing gehad en produkte wat naby die vervaldatum was, kon ons vinnig as spesiale aanbiedinge verkoop. Dié keer is ons onverhoeds betrap."
Hulle hou datums dop en probeer so ver moontlik produkte aan die verskaffers teruglewer, maar dit wat oorbly is 'n verlies wat die besigheid moet dra.
Boy van Rensburg wat 'n wynboetiek op Albertinia bedryf sien ook verliese aan die kom. "Slegs sekere wyne word deur die verskaffers teruggeneem en hulle betaal 'n bedrag daarvoor uit. Die res is vir ons eie rekening. Gelukkig kan die brandewyn en ander harde hout nog na grendeltyd verkoop word."
Die nie-alkoholiese produkte op drankwinkelrakke kan ewe min van die hand gesit word. Adjudantoffisier Stiaan Claassens, drankoffisier van die Stilbaai-polisie sê die inperkingsreëls verbied die verspreiding van énige produk wat die eiendom van 'n drankwinkel is. "Drankwinkeldeure mag op die oomblik glad nie oopgesluit word nie en hulle mag ook nie eens die produkte weggee nie."
Dringende versoek
Die woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse alkoholbedryf, Sibani Mngadi het Maandag, 20 Julie in 'n mediaverklaring gesê hulle versoek die regering dringend om ten minste die betaling van aksynsbelasting vir Julie en Augustus uit te stel. Dié belasting is by produksiepunte betaalbaar, wat beteken verskaffers bly aanspreeklik vir die produkte in hul pakhuise terwyl handelaars niks by hulle kan aankoop nie.
Volgens Mngadi beloop die geskatte bedrag wat einde Augustus aan SARS vir aksyns verskuldig sal wees, R5 100 302 313. Indien die bedryf gedwing word om dit nou te betaal, sal nog meer werksgeleenthede in die slag bly omdat ondernemings bankrot sal speel.