Mossel Bay Advertiser

Nuwe geslag moet nou die leisels vat

-

Koos en Anita van Rensburg het die afgelope jare sinoniem met KVR Veilings op Riversdal geword. Tyd staan egter nie stil nie en hulle het op 1 Junie die leisels amptelik aan hul seun, Dawie oorgegee.

"Ek sal nog konsulteer vir die man, maar hy is nou die baas hier," sê Van Rensburg senior met 'n skalkse glimlag.

Die Van Rensburg-egpaar het KVR op 1 Julie 2008 begin en Koos vertel hoe dit van 'n klein ondernemin­g na 'n groot pakhuis met veilings wat elke drie weke plaasvind gegroei het. Hulle het ook 'n afdeling wat sleepwaens van alle groottes verhuur bygevoeg.

Hy sê hy kyk terug op uiters genotvolle jare op Riversdal. "Elke dag se meng met mense was vir my heerlik en ek het wonderlike kliënte opgebou. Ek het ook die voorreg gehad om 'n hele paar mense te mentor en hulle is nou suksesvoll­e sakemense. Ek sê uit my hart dankie aan almal wat ons deur die jare ondersteun het."

Koos is 'n boorling van Riversdal en het na matriek Gauteng toe gegaan vir sy studies. Na hy sy ingenieurs­graad behaal het, het hy vir Sasol gaan werk. Dié wêreld het hom egter nie lank tevrede gestel nie en hy het as afslaer by die destydse Boland Bank begin werk. Sy pad het hom deur Pretoria en vandaar na Kaapstad geneem, waarna hy besluit het om na sy geboortedo­rp terug te keer en sy eie besigheid te vestig. Anita het van die begin af die boekhoudin­g behartig en sal dit voortaan van die huis af doen.

Hy en sy wederhelf van die afgelope 40 jaar wil nou rondry en kamp. Hy vertel hulle reis nie heeltemal soos ander mense nie. "Ons het 'n paar jaar terug 25 dae gehad om Namibië toe en terug te toer. Teen dag 23 het ons darem al van Riversdal tot in Springbok gevorder." Dawie werk reeds die afgelope agt jaar saam met sy ouers in die besigheid en beplan om die goeie diens waarvoor die ondernemin­g bekend is, voort te sit. "Niks in die bedryf van KVR verander nie, alles bly net so goed."

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa