Mossel Bay Advertiser

Duimpie, sy vriend en ‘n kar

-

Ek kom uit die Suid-Vrystaat. Op Koffiefont­ein was 'n boer wat renperde afgerig het met die naam van Duimpie, maar hy was nie klein van postuur nie. In Kimberley was 'n man wat ‘n garage gehad het. Hy het 'n resiesperd gekoop wat op Boshof staan.

So gaan Duimpie en sy vriend Kimberley toe om saam met die garage eienaar te gaan kyk na die perd op Boshof. Hulle ry toe met ‘n 1958 Ford Fairlane Boshof toe.

Toe hulle afdraai van die teerpad af op die grondpad na die plaas toe, sê die vriend hy was nog nooit so bly om op 'n grondpad te ry nie want sy voetsole is al deurgetrap van briektrap. Die garageman het net so oor sy skouer teruggekyk en hy sê: “Daai is nog niks,” en hy ruk die kar se stuurwiel sommer so heen en weer en daar is die kar onderstebo.

Duimpie klim by sy venster bo uit want die kar lê op sy sy. Eers wil hy die motorkar omrol, maar kry dit nie reg nie. Hy klim toe self bo op, steek sy hand uit om hulle op te trek, maar hulle is so vol pyne een se arm is af en die ander een se skouer is uit lit uit.

Duimpie kry toe 'n ander plan. Hy loop om die kar tot by die dak, hy slaan en skop teen die dak en skree: “Manne, die kar brand!” Duimpie sê hy het dit nog nooit in sy lewe gesien dat twee manne wat elkeen 120kg weeg, soos twee geelslange by daardie klein venstertji­e uitpeul nie, pyne of te nie. Fluit fluit my storie is uit.

• Ingestuur deur Piet Venter, Ou Meuleleefr­egwoonstel­le, Riversdal

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa