Krisis by aktekantoor het plaaslike rimpeleffek
Die voortslepende probleme by die Kaapse aktekantoor, het allerweë ‘n uiters negatiewe effek op die plaaslike ekonomie. Dít, is prokureurs en eiendomsagente in die streek eens.
Na aanleiding van ‘n leser se versoek en verskeie inskrywings op sosiale mediaplatforms, asook berigte in die nasionale nuus, is die probleme rondom die Covid-19-pandemie se effek op die WesKaapse aktekantoor onder die loep geneem. Volgens nuusberigte, was die aktekantoor sedert dit op 13 Mei tydens die vlak 4-inperking heropen is, tot en met 17 Julie, vir 37 dae gesluit. Die kantoor was volgens inligting, minstens ses keer gesluit en by tye tot 10 dae op ‘n keer.
‘In die duister’
Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier het verlede week in ‘n brief die minister Thoko Didiza, nasionale minister van grondhervoming en landelike ontwikkeling versoek om dringend in te gryp.
Hy het die Covid-19-protokol by die aktekantoor bevraagteken en ook die voorstel gemaak dat personeel in kleiner, meer geïsoleerde spanne saam werk. Maynier het gesê dit is “problematies” dat die kantore sluit “elke keer as ‘n werknemer positief toets vir Covid-19, of in aanraking was met iemand wat positief getoets is.”
Jaco Fourie van Rauch Gertenbach Prokureurs op Mosselbaai bevraagteken ook die situasie. “Ons is totaal in die duister aangesien die sluiting gewoonik gepaardgaan met ‘n ‘until further notice’-kennisgewing. Ons hande is dus afgekap.”
Fiona Williamson van Mosselbaai wat in aktebesorging spesialiseer meen prosesse wat gewoonlik 5 tot 10 dae neem, neem nou 8-10 weke.
Williamson sê die impak op haar praktyk se kontantvloei is verwoestend. Sy bekommer haar ook oor die effek op diensverskaffers verwant aan die eiendomsmark.
Marietjie Coetzee, wat al 20 jaar in Mosselbaai sake doen vind dit skreiend dat die aktekantoor so onvoorbereid op Covid-19 was. “Hoekom kon tegnologie dit nie beter benut word nie?”
Corné Olivier van Property Monopoly sê dat transaksies wat in Januarie en Februarie plaasgevind het, nog nie geregistreer is nie. “Die verkoper word beïnvloed want hulle kry nie hul geld nie, ‘n trek moet skuif en okkupasiehuur word betaal. Veral eerste kopers, moet langer huur betaal in plaas van 'n huispaaiement. Eiendomsagente ly verlies aan hul enigste inkomste."
Deona Aucamp van Suid-Kaap Forum berig dat Mario Simon van Suid-Kaap Eiendomme op Riversdal dieselfde frustrasie beleef. "Registrasies wat langer en laat plaasvind, het groot finansiële implikasies vir kliënte.”
"Ons bly is ons kan darem nog werk, maar daar is groot finansiële druk op alle partye," beaam Johan Kruger van Promax Eiendomme op Stilbaai.
Annemarie Oosthuizen van AC Oosthuizen Prokureurs op Stilbaai sê die aktekantoor se wipplankryery is uitmergelend. "Munisipale uitklaringsertifikate verval voor registrasie kan plaasvind en dis ekstra onkoste om 'n verlengde sertifikaat aan te vra. Almal verstaan nie dat dit tans onmoontlik is om akkuraat rekord van vordering te hou nie."
Prokureur Johan Cronjé met kantore op Albertinia en Stilbaai, reken die situasie is 'n nagmerrie. "'n Koper en verkoper gaan met sekere verwagtinge in 'n transaksie in. As die aktekantoor nie met die proses kan begin of aangaan nie, is almal se planne in die war."
Agterstand
In ‘n skrywe deur Joseph Dreyer, waarnemende registrateur van aktes by die Wes-Kaapse Aktekantoor wat verlede week vir die Mossel Bay Advertiser aangestuur is deur ‘n plaaslike eiendomsagent, word lig op die agsterstand gewerp. Volgens dié dokument was die toedrag van sake op 5 Augustus, soos volg:
45 992 aktes is ingehandig tussen 13 Mei en 5 Augustus;
20 181 hiervan is geregistreer (dus 44%); en die agterstand, soos op 5 Augustus was 25 811.
• Lees die volledige artikel op www.mosselbayadvertiser.com en www.suidkaapforum.com