Mossel Bay Advertiser

Lewensredd­er (82) vertel van eerste sukses

- Cornelle Carstens

Dit is nou wel winter en die gedagte aan 'n somervakan­sie te midde van die Covid-19pandemie, voel dalk of dit vanjaar 'n lugkasteel kan bly.

Diegene wat egter oorweeg om lewensredd­ing te beoefen in 'n komende vakansiese­isoen, sal dalk nie tevrede wees as hulle dit vir R15 per week moet doen soos Pierre van der Merwe (82) van Hartenbos vertel nie.

Hy sê dat die plaaslike lewensredd­ers hom onlangs 65 jaar terug laat dink het. "Einde 1955 het ek en 'n vriend as lewensredd­ers diens gedoen. In daardie tyd was daar nie opleiding vir lewensredd­ers nie, in elk geval nie by ons nie. Ek was 17 jaar oud en was daardie jaar in die lugmaggimn­asium. Daar het ons 'n bietjie noodhulp geleer."

Omdat Pierre se pa desjare in bevel van die polisie op Mosselbaai was, het hy sommer namens sy seun aansoek gedoen. "Dit het gehelp dat hy vir Oom Hoffie, die stadsklerk geken het. My enigste kwalifikas­ie was dat ek goed kon swem." Pierre en sy vriend Harry Pienaar, het aan die begin van 1955 na 'n skip wat voor anker in die baai gelê het, geswem. "Die hawekaptei­n het gereken dit was so twee myl gewees."

Pierre vertel daar was nie afdae nie. "Jou werkstyd was van Maandag tot Maandag, sonop tot ongeveer sononder of tot die laaste swemmer vertrek. Al toerusting was so 'n driehoekst­aander met 60-70 jaarts tou en 'n sirkelvorm­inge stuk seil vooraan."

Eerste geval

Die dag toe Pierre se trein uit Pretoria op Hartenbos aankom, het sy pa hom op die stasie begroet met 'n "gooi jou bagasie by die huis af, trek jou baaibroek aan, gryp 'n handdoek en kom, die skole het al gesluit".

By De Bakke aangekom vir diens, is hy en sy vriende die see in om die Transvaals­e stof af te spoel. "Dis toe dáár waar my werk begin."

Pierre meen dat almal wat De Bakke ken weet dat as die gety taamlik hoog is, is daar aan die linkerkant langs die rotse altyd 'n stroom wat see-in trek. "Daar swem toe so 'n jong laaitie en swaai net arms. Ek sê vir Harry die mannetjie speel lekker, maar Harry het so een kyk gegee en geantwoord, 'die man speel nie, hy verdrink'."

Hy was nie heeltemal seker wat hy moes doen nie, maar was op pad om die seun te red. "Ek maak toe my eerste groot fout en benader die mannetjie reg van voor. En 'n man wat paniekbeva­nge is, is sterk. Hy wil net bo bly en gee niks om wie of wat hy na onder druk nie." Volgende beland Pierre in 'n ystergreep. "Ek was nou nie van gedagte om op so 'n manier die lewe te verlaat nie en ek haak af en gee die man 'n karateskop in die ribbes."

Met 'n gesukkel het Pierre en die drenkeling die strand gehaal.

"Daar was nie sprake van mond-tot-mond-asemhaling nie. Jy lê bloot die persoon op die maag, effens afraand, vou sy hande onder sy kop, staan bo-oor hom en dan pomp jy."

Die pompaksie, sê hy, is om met beide hande druk uit te oefen waar die ribbes begin. Na 'n ruk se "gepomp" het die seun weer lewe getoon. Pierre het toegesien dat 'n dokter gekontak word om die seun verder te behandel.

'n Paar dae later het Pierre die mannetjie weer op die strand gesien. "Maar nooit weer in 'n swembroek nie," vertel hy.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa