Die siel van Ouma Lena se huis
'n Geselsie met Jenny Olivier beteken jy moet kophou om by te bly. Sy is só begeesterd met projekte en planne dat een vertelling moeiteloos in die volgende invloei.
Die klein vroutjie met die groot glimlag en nóg groter hart werk onverpoosd om 'n positiewe verskil in mense se lewens te maak. "Niks gee my meer bevrediging as om te sien ek het iemand se dag opgehelder nie," sê sy.
Jy kan nie regtig die mens Jenny leer ken, sonder om met Ouma Lena se huis in Melkhoutfontein kennis te maak nie. Olivier se dryfkrag en energie is die bloudruk agter die sentrum wat vandag vir talle inwoners 'n onontbeerlike deel van hul lewens geword het. Sy vertel hoe dit gebeur het.
"Ons gesin het in 1996 van die OosRand af Stilbaai toe getrek. Ons het die Bellevue Hotel aan die oostekant gekoop en ek het besonder goeie verhoudings met die vroue wat vir ons gewerk het, opgebou. Toe ons die hotel in 2000 moes verkoop as gevolg van my breinoperasie, het ek kontak met hulle almal behou. Hul hartseerverhale van onder meer kinders wat 'n huis van veiligheid nodig het en wat toe nêrens beskikbaar was nie, het my hart diep geraak."
In 2006 het Olivier in samewerking met Badisa, klein projekte vir jong mense onder 18 begin aanbied. Die beplanning vir 'n naskoolfasiliteit het ook in dié tyd begin.
'n Omgeegroepie vroue uit Melkhoutfontein en Stilbaai het in 2007 op Maandagaande begin bymekaarkom. Hulle het potensiële probleme geïdentifiseer, verhoudings gebou en met 'n volwaardige jeugprojek begin. Video- en speletjiesaande is onder meer Vrydae en Saterdae aangebied. "'n Paar van die vroue wat in die oorspronklike kerngroep was, is steeds by Ouma Lena betrokke," sê sy trots.
Lena se nalatenskap
Gedurende 2008 het een van die medewerkers gesien 'n huis wat ideaal geleë is, staan leeg. Die eiendom het aan oud-minister Gerrit en sy vrou Lena Viljoen behoort en toe Lena hoor waarvoor die huis gebruik sal word, het sy dadelik ingestem om dit te verhuur.
"Met geloof en 'n wonderwerk elke dag, sonder geld in die bank, het ons begin opknap en bou," onthou Olivier. 'n Sopkombuis en 'n nasorgsentrum wat op die eerste dag al 270 kinders gehad het, het in 2009 begin.
Die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Die oorspronklike fasiliteite het mettertyd heeltemal te klein geword en in 2015 het Lena die stuk grond langsaan ook gekoop en die nuwe gebou is opgesit.
Olivier se drome vir Ouma Lena se huis groei uit die behoeftes van die gemeenskap.
"Daar is soveel terreine waarop ons die gemeenskap kan dien en met elke nuwe behoefte wat uitgewys word, ontstaan ook die oplossing."
Inperking het die planne vir 'n sentrum vir kinders met spesiale behoeftes en 'n selfsorgtuin bietjie in die wiele gery, maar dit skop so gou moontlik af, sê sy.
Sy sê dié projek het haar hele lewensuitkyk verander. "Die samewerking, liefde en wonderwerke van die afgelope jare voed my siel elke dag. Ek hoef nie eers iets anders te doen om te ontspan nie, want my werk is te lekker."
Sy en haar man Willie is 44 jaar getroud en die egpaar het drie kinders en twee kleinkinders.