Stilbly kan jou dood kos
‘n Mosselbaaise vrou wie se storie oor geslagsgeweld op kykNET te siene was, het dié bepaalde episode van Op Seer se Spoor van ‘n gesogte South African Film and Television Awards (SAFTA)-toekenning besorg. Evelyn Pienaar, ‘n sersant in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, is in 2012 ses keer met haar dienspistool deur die pa van haar twee dogters geskiet. Die program word ook as ‘n opleidingsvideo vir die SAPD wat betref geslagsverwante geweld, gebruik.
Ernusta Maralack, aanbieder van die program het in haar kommentaar gesê dat Evelyn se storie nie net die samelewing dwing om te kyk na geslagsgeweld in totaliteit en die langdurige effek daarvan op die slagoffers nie. Sy meen dit werp ook lig op hoe hierdie tipe sake beter hanteer en die betrokkenes ondersteun kan word.
Die Mossel Bay Advertiser het met Evelyn oor haar ervaring gesels.
Jou storie – in kort?
Na bykans drie jaar van emosionele en sielkundige mishandeling, is ek ses keer deur die pa van my kinders, in die teenwoordigheid van my kinders, my ma asook huisvriende geskiet. My ma, my dogter en my dogter se peetma is ook in die proses gewond. Hierna het hy homself geskiet.
Hoe lank het dit jou geneem om hieroor met mense te begin praat?
Omdat hy dit nie oorleef het nie, het ek vandag nog baie vrae. Dit is moeilik om te aanvaar dat hy dit net sommer gedoen het. Ons het baie probleme voor die voorval gehad en nie ten tye van die skietery saamgewoon nie.
Ek het my eerste onderhoud met Kuier ‘n jaar na die voorval gehad nadat ‘n kollegevriendin van my my storie aan Ernusta Maralack vertel het. Ek het in daardie stadium gevoel dat dit die volgende stap in my heelwordproses moet wees. Die TVopname is eintlik ‘n opvolg op die Kuieronderhoud.
Hoe het jy, jou familie en kinders die publisiteit ervaar?
Ons het eers sielkundige raad ingewin en daarna besluit. Ek kon nie seker wees wat my gemoedstoestand sou wees tydens die opnames nie. Om te praat oor die voorval is steeds baie emosioneel, selfs nou agt jaar later, maar ek was bereid om my ondervinding met die land te deel.
Wanneer en hoe het jy geweet jy is gereed om jou storie te vertel? Hoe het dit gevoel om jou storie te “lees en te sien”?
Na my eerste openbare optredes, het ek gereed gevoel om dit op nasionale televisie te doen. Ek is baie tevrede nadat ek die opnames gesien het en vertrou dat ek een of twee vroue, selfs man hierdeur kan bereik.
Dit is nie die eerste keer dat jy betrokke is by inisiatiewe teen geslagsgeweld nie?
Ek neem graag deel aan inisiatiewe teen geslagsgebaseerde geweld. Ek glo my persoonlike ervaring kan iemand bemoedig om die stilte voor geweld te breek. Ek praat nie oor die gebeure in my lewe sodat mense my moet jammerkry nie. Ek wil iemand bereik – vroue, mans, jongmense sodat hulle die tekens van mishandeling vroegtydig kan raaksien. Ook dat hulle kan sien hoe baie vorme van geweld en mishandeling daar bestaan. Ek is meer as bereid om te praat, solank ek iemand kan moed gee en bewus kan maak.
Wat is jou opinie oor geslagsgeweld en die 16 dae van aktivisme? Het jy ‘n oplossing?
Omdat daar so baie verskillende vorms van mishandeling bestaan, moet ons mense bewus maak. Opvoeding moet tuis plaasvind en ouers moet weer beheer oor hulle kinders neem. Geweld het die norm geword en dit is verkeerd. Selfs mans kry skaam oor die rapportering van geweld en dit moet stop. Ek is nooit aangerand nie.
Ek het nie blou oë gedra of stukkende plekke in my gesig gehad nie, maar emosioneel is ek afgebreek. Dit help nie om stil te bly of skaam te voel oor die probleem waarmee jy saamleef nie. My silence could
have killed me. As slagoffers dra ons deur ons swye tot die probleem by, want ons laat die geweld toe. My skuld aan my mishandeling, is dat ek dit toegelaat het. Ek pleit by vroue en mans, moenie bewustelik toelaat dat jy mishandel word nie.
Daar is mense wat weet wat om te doen en wat kan help.