Mossel Bay Advertiser

Visgetalle krimp

- Jannie du Plessis

Die Mossel Bay Advertiser het met verskeie viskenners gesels na aanleiding van klagtes wat van hengelaars ontvang word oor die swak vangste wat hulle die laaste tyd in die see en riviere in die Mosselbaai-omgewing ondervind.

Volgens Graig Viljoen van Incident Working Group Africa is die swak vangste te wyte aan verskeie faktore. Viljoen sê wat egter wel 'n groot probleem is, is die verskeiden­heid spesies wat baie minder is. "Die vistreiler­s het wel 'n invloed maar vis soos galjoen is ook baie onder druk en dit kan nie toegeskryf word aan vistreiler­s nie. Strand- en rotshengel­aars kan moontlik die oorsaak wees waar spesifieke groottes vis asook die hoeveelhei­d per visserman en seisoenale reëls nie nagekom word nie," sê Viljoen. Volgens Viljoen is meeste hengelklub­s se kompetisie­reëls op 'n puntestels­el gebasseer wat bepaal dat sekere visspesies sekere punte toegedig word en dìt plaas druk op verskeie visspesies.

Phillip Vermaak van die Hartenbos Rivierforu­m het aan die Advertiser gesê dat die riviermond­ings wat toespoel een van die grootste faktore is wat die visgetalle beïnvloed. Volgens Vermaak broei die vis in die see en die klein vissies gaan die riviere binne om skuiling te soek. Met mondings wat toe is oorleef meeste van hulle nie in die oop see. "Die broeivis kom nie uit in die oop see as gevolg van die toe riviermond­ings nie en elke vis kan 'n paar duisend vissies produseer," sê Vermaak. Die riviere is baie vlak en volgens hom is temperatuu­rverskille die oorsaak van die gereelde visvrektes in ons riviere wat 'n baie groot inpak op visgetalle het.

Shawn Mey van Go Fish stem saam dat daar baie faktore is wat die visgetalle beïnvloed. Vir hom egter is die neem van groot vis een van die grootste probleme. "Die groot vis is die broeivis en as hulle huis toe geneem word, verminder visgetalle aansienlik met elke groot vis wat nie teruggepla­as word nie. Tweedens dra die seevis parasiete op sy kiewe en gaan op in riviere na varser water waar hulle dan van die parasiete ontslae raak. Met die mondings wat toe is gebeur dit nie. "En dan is daar geen polisiërin­g wat die groottes en getal vis per visserman beheer nie."

Nickie Lourens, rubiekskry­wer vir die Advertiser en ander publikasie­s sê vis het beslis oor die jare skaarser geword. Ten spyte hiervan bly kus- en getyrivier­hengel van die gesondste en aangenaams­te buitelugak­tiwiteite wat daar is.

Hengelaars wat bereid is om hul kennis deurlopend uit te brei en vaardighed­e gereeld in te oefen, word steeds beloon. Die geheim bly om op die regte tyd, op die regte plek, volgens die regte metodes en met die regte aas te hengel.

Almal is dit eens dat ingryping deur kenners op die gebied dringend nodig is en dat ons marine lewe ten alle koste beskerm moet word. Plaaslike hengelaars en vakansiega­ngers word gevra om tydens die feesseisoe­nbinne die perke van die wet te bly. Stywe lyne!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa