REGSTREEKS
Verlede week sit ek oudergewoonte in my motor by Die Punt oorkant Inner Pool op Mosselbaai. Ek sit gereeld daar en staar na die see en die mense. Hierdie keer wou ek ‘n kort blaaskans neem na ‘n rustelose nag, toe betogers sedert die vroeë oggendure paaie in die KwaNonqaba-gebied versper het, en ek dou voor dag aan die werk moes spring.
My voorste nommerplaat het ‘n week vantevore êrens in die dorp afgeval en naas ‘n hele lys van doendinge waarby ek nie uitkom nie, was ‘n nuwe nommerplaat nog ‘n boksie wat afgetiek moes word. Op die betrokke oggend het die sonlig op die water weerkaats en ek besluit toe om op te ry, daar na die parkeerplek langs die trappe van die St Blaize-grotte. Daar gekom en steeds in my motor, begin ek toe om agterstallige foonoproepe af te handel.
Boonop het ses dolfyne op daardie spesifieke oomblik aan die agterkant van Die Poort in die branders baljaar en die pragtige uitsig het my vir ‘n oomblik van ‘n lang te-doen-lysie laat vergeet.
Terwyl ek met die eerste foonoproep besig is, sien ek uit die hoek van my oog ‘n man wat die parkeerterrein met ‘n besem skoonvee. Die volgende oomblik kom staan hy egter reg voor my motor en beduie met sy wysvinger na die leë nommerplaat. Met my foon steeds tussen my oor en skouer vasgedruk, beduie ek ongeduldig terug dat ek bewus is daarvan. Wat het dit in elk geval met hom te doen?
‘n Paar minute later, steeds met die foon teen my oor, raak ek bewus van iemand wat by my venster aan die bestuurskant staan.
Ek ignoreer die persoon eers en dink dadelik dit is ‘n bedelaar. Na ‘n paar minute staan hy egter steeds daar waarna ek geïrriteerd my ruit afdraai. “Wat soek jy?” vra ek kortaf en sien dit is dieselfde man wat vroeër na die nommerplaat beduie het. “Hierdie is joune,” antwoord hy vriendelik en hou met ‘n groot glimlag ‘n nommerplaat in sy hande vas. “Ek het dit verlede week hier in die pad by een van die spoedwalle opgetel en dit gebêre. Toe ek sien jou nommerplaat is weg, het ek gou by die plek waar ek dit gestoor het gaan kyk, en dit is inderdaad joune,” sê hy vriendelik en stop die nommerplaat in my hande, voor hy fluitend wegstap.
Baie dankie Randall Smith vir jou vriendelikheid en dat jy my dag gemaak het. Dankie dat jy vir my, wat sinies oor die wêreld is, gewys het dat ons nog vir mekaar iets kan doen, sonder om iets terug te verwag. Hoe besonders is dit nie?
* Smith werk vir ‘n kontrakteur wat deur die Mosselbaai-munisipaliteit aangestel is om die strate skoon te maak.