Mossel Bay Advertiser

Beurtkrag lei tot diefstal

- Louise Karsten

Die meer as R450 000 se goedere wat by 'n PEP-winkel in Groot-Brakrivier gesteel is, is vermoedeli­k tydens beurtkrag gesteel. Die polisie vermoed so omdat die alarmstels­el van die winkel geaktiveer was toe die deure na besigheid op Saterdag, 17 September gesluit is. Die alarm het egter nie afgegaan tydens die roof nie.

Die diewe het toegang tot die perseel gekry deur 'n deur en 'n hek agter die perseel oop te breek en ook deur die dak van die winkel. Die huisbraak het plaasgevin­d tussen Saterdagaa­nd en Maandagogg­end, 19 September. Meer as 600 selfone, 50 DStv-dekodeerde­rs, beddegoed en kontant ter waarde van R100 000 is gebuit.

Die polisie se kommunikas­iebeampte, sers Lauriane Botha sê werknemers het op Maandag, 19 September die winkel oopgesluit en gesien dat daar deur die dak toegang tot die perseel verkry is.

Die kluis van die winkel is oopgebreek. Teen die ter perse gaan, was niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Botha versoek die publiek om hulle tydens beurtkrag op die sektor se nommer te skakel (082 552 1682).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa