Mossel Bay Advertiser

Twee treindrywe­rs se nostalgie oor jare se ervarings

- Jannie du Plessis

Na die afgelope stoomtrein­rit vanaf Hartenbos- na Groot-Brakrivier­stasie en terug het die heimweë van die ou stoomlokom­otiewe weer aanklank gevind by die publiek en ook aangename nostalgie terug gebring vir die stoomlokom­otiefdrywe­rs van vroeër jare.

Transnet is oorval met versoeke en die gratis kaartjies was gou uitgegee aan 1 200 inwoners wat die ritte meegemaak het op 24 September met Erfenisdag.

Mossel Bay Advertiser het na aanleiding hiervan met twee van die dorp se plaaslike afgetrede treindrywe­rs in Hartenbos gaan gesels oor hulle jare op die spoor.

Sakkie van Zyl en Johan (Boela) Heyns het as jong 16-jarige seuns by die destydse SuidAfrika­anse Spoorweg (SAS) begin werk. Van Zyl is in 1958 na Mosselbaai en Heyns het sy loopbaan in die Kaap begin.

Hartseer

Van Zyl het na sy opleiding as 'n drywer 'n draai gemaak in De Aar en Coligny en na verskeie kursusse en eksamens, kwalifisee­r hy in 1967 as 'n eerste graad drywer. Sy loopbaan eindig in Beaufort-Wes waar hy in 1994 aftree en terugtrek na Hartenbos. Net soos Van Zyl het Heyns homself ook opgewerk en het beide soos die tegnologie verander vanaf stoomlokom­otiewe oorgegaan het na dieseltrei­ne en later na 3 000V elektriese treine en eindelik die 30 000V elektriese treine. "Ons het hartseer gesien hoe stoom-lokomotiew­e opgesny word vir skrootmeta­al," vertel Van Zyl. Hy vertel ook dat daar selfs in daardie tyd ook al gevalle was waar spoorstawe gesteel en ander infrastruk­tuur vernietig is.

Heyns het op daardie stadium opleiding gegee in Vryheid en is toe ook na BeaufortWe­s. Die dag toe hy daar aanland, moes hy hoor hulle het nie 'n beskikbare drywer vir die Oranje-sneltrein en net die volgende dag is hy toe daar en dan ingespan. Toe hy die volgende dag inboek, het hy en Van Zyl ontmoet en het die vriendskap oor die jare behoue gebly soveel so dat beide nou afgetree het en in Hartenbos woon.

Oor hulle ervaring met verskeie klasse van stoomlokom­otiewe het die manne baie te vertel. Hoe die een goed opdraandes kan klim en die ander een weer gemaklik met baie swaar waens of baie passasiers op die spoor kan draf.

Loko's

Van Zyl vertel van sy jong dae hier in Mosselbaai toe hy nog 'n skoonmaker was waar die loko's gestaan het by die ou Irvine & Johnson visfabriek. "Daai tyd het ek baie gehelp kole gooi. Kole is met die hand gegooi." Van die loko's is nog met die hand op die draaitafel omgedraai. "As jy daar in die nag van die berg afgekom het, was Mosselbaai 'n klein ou plekkie," sê Van Zyl. Die treine in daardie tyd het hoofsaakli­k produkte gebring en geneem van fabrieke soos Langeberg, Nestlé, Irvin & Johnson en die Leyland verf-fabriek.

Trots gaan haal Van Zyl 'n portret van 'n lokomotief van die muur af terwyl Heyns vertel van dié lokomotief wat spesiaal gebruik is vir die 30-jarige bestaan van die Bloutrein in 1969.

Dis 'n 25-klas lokomotief.

Heyns vertel die dag toe hy in 1957 in Leeu-Gamka gewerk het. "Ek sal die trein se nommer nooit vergeet nie, 7070," vertel hy. Hy vertel dat hulle uit Lientjiesb­os vertrek het en moes redelik haastig wees aangesien 'n passasiers­trein van die Kaap se kant af op pad was. "Net voor die Luttig-stasie is ons loko's oor die brug en die res van die goederewae­ns het ontspoor." Niemand is egter beseer nie. Hy vertel dat toe daar ondersoek gedoen word, is daar gevind dat die boute van die spoor losgedraai was. "Dit kan net gebeur met 'n sekere moersleute­l en dit was sabotasie," sê hy.

Die spoorwegpo­lisie het op pad 'n man opgemerk op 'n fiets met dieselfde soort moersleute­l.

Die 63-jarige man is later verhoor en het 17 jaar tronkstraf gekry.

En so kuier die twee manne gereeld saam oor 'n koppie koffie en gesels oor die ou dae op die spoor.

 ?? Foto: Jannie du Plessis ?? Johan (Boela) Heyns en Sakkie van Zyl is jare lange vriende sedert hulle dae as treindrywe­rs in Beaufort-Wes en hulle is nou inwoners van Hartenbos en steeds goeie vriende.
Foto: Jannie du Plessis Johan (Boela) Heyns en Sakkie van Zyl is jare lange vriende sedert hulle dae as treindrywe­rs in Beaufort-Wes en hulle is nou inwoners van Hartenbos en steeds goeie vriende.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa