Mossel Bay Advertiser

Inbrekers kom nie met ‘n bos blomme nie

- Met Louise Karsten

My ouers is 'n paar jaar gelede in hulle woning in Pretoria aangeval. Drie mans wat met pangas bewapen was, het in die middernagt­elike ure bo-oor die palisadehe­ining geklim, die veiligheid­shek voor die voordeur met 'n panga uit die muur geslaan en my pa binne ons huis met 'n panga oor sy kop en lyf geslaan.

My pa was ten tye van die voorval misdaad-naïef. Ek sê so want hy het die gekap van die panga gehoor maar het gedink dit is die swembad se pomp wat raas.

Hy het opgestaan om ondersoek in te stel en het by die voordeur gestaan toe die inbrekers die deur afruk. Sy enigste wapen was 'n klein kussingtji­e wat op die sitkamerba­nk gelê het. Hy het dit gegryp en die inbrekers daarmee probeer afweer. Nadat my pa weens die impak van die houe op die mat neergeval het, het een van hulle met sy panga oor hom bly staan. Hy is aangesê om stil te lê wat hy toe gedoen het en daar was nie verdere houe nie. Nietemin was sy beserings ernstig en ek het al baie keer gedink dat die voorval my pa voor sy tyd laat oud word het.

Na die aanval het my pa sy vuurwapenl­isensie hernu. Sy rewolwer was snags by hom. Dit was asof my pa wou hê hulle moes terugkom vir 'n tweede keer. Ek kon dit in sy oë sien wanneer hy daaroor gepraat het. Ek kon sien en hoor dat my pa van sy naïwiteit gestroop is. Volgende keer sou hy nie weer dink die gekap van 'n panga is dalk 'n swembad se pomp wat raas nie.

Hy sou opstaan met sy rewolwer in sy hand, sy rewolwer sou gelaai wees en my pa sou, soos hy verskeie kere aan my gesê het: "Eers skiet en dan vrae vra."

Dit is 'n sterk stelling, ek weet, maar ek het verstaan wat my pa bedoel.

'n Inwoner van Mosselbaai het die afgelope week 'n vermeende inbreker doodgeskie­t. Ek het 'n artikel hieroor op die Mossel Bay Advertiser se Facebookbl­ad geplaas. Uit die meer as 270 kom-mentare van lesers was daar nie een kommentaar wat simpatie met die inbreker gehad het nie. Inteendeel, het die lesers die inwoner geprys wat die man doodgeskie­t het.

Ek weet ons moet waak daarteen om afgestomp te word. Ek weet ons moet ons nie verlekker in die dood van 'n mens nie. Maar ek weet mense is moeg vir misdaad. Ons is moeg om snags bang te voel. Ons woon in Mosselbaai juis omdat ons nie in Gauteng wil woon of in plekke elders waar misdaad seëvier nie. Hoe lank nog voor Mosselbaai ook 'n Gauteng raak?

Die inwoner wat die skoot afgevuur het en die vermeende inbreker doodgeskie­t het, was nie misdaad-naïef nie. Hy is ook nie afgestomp nie want hy moes berading na die voorval ontvang en het aan skok gely.

Een leser skryf: "Die inbrekers kom nie met 'n bos blomme om jou te verras nie. Die meeste dra pangas, messe en ander wapens." Dit is so.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa