‘n Natuurtuin sonder grasperke
‘n Mooi voorbeeld van ‘n waterskaars, grootliks inheemse tuin is dié van die Gerhard en Annatjie Groenewald, ‘n egpaar van Wilderness wat hulle verlede jaar in die Kraaibosch-landgoed gevestig het.
Nadat hul nuwe huis in Duzislot teen die begin van November klaar gebou was, het hulle met ‘n oop stuk grond van 600m² gesit met nie ‘n enkele plant op nie. Teen middel-Desember, slegs ses weke later, was daar ‘n volledige tuin wat gespog het met talle inheemse bome en ‘n paar bakkievragte se vetplante, struike, grasse en grondbedekkers wat elk ‘n staanplek gekry het.
“Ek wou ‘n Engelse landelike tuin (English country garden) hê, maar met ‘n eg SuidAfrikaanse stempel, een wat min water en min onderhoud nodig het, en geen grasperk nie,” vertel Annatjie.
Sy en Gerhard het die Mes Amis-gastehuis vir bykans twee dekades bedryf, maar het dit verlede jaar verkoop om af te skaal en rustiger te raak. Toe die nuwe eienaars aandui dat hulle Annatjie se groot versameling vetplante wat sy oor jare bymekaargemaak het wou uithaal, was sy bly om dit te kon hergebruik.
Sy sê sy sou dit nie kon doen sonder
PJ Swart en Raoul Liederer nie. Hulle is tuinboukundiges en ook kundig op die gebied van besproeiing. Raoul is ‘n seun van ‘n vriendin van haar.
Hulle het 11 bakkievragte plante van Mes Amis af aangery - onder meer 150 clivias, ‘n klompie spekbome, ‘n 20 jaar oue broodboom en groot boomaalwyne. ‘n Klomp inheemse bome is aangeskaf wat in kleigrond aard. Daar is ‘n lieflike verskeidenheid: Wildepruim, Waterbessie, Wit Karee, Voëlbessie (Black Bird Berry), Bosvlier (Forest Alder), Without (Cape Holly Lavender), Wit Olienhout (Tree Fuschia), Basboom (Pom Pon) en Rooiels. Daar is ook Ysterbos (Sand Olive) en Wildedagga.
Die plantkeuses was daarop gemik om voëls, skoenlappers en bye te lok. Vyf verskillende spesies laventel en 'n verskeidenheid grasse is geplant.
“Ek was bekommerd oor die boomaalwyne, want ‘n mens kon sien hulle kry swaar, maar hulle loop al uit. Teen die einde van die jaar gaan die tuin ‘n skouspel wees,” sê ‘n ingenome Annatjie.
“Die nuwe groei op die bome en plante wys dat hulle gelukkig is en dat die grond goed voorberei is. Ongeveer 30m³ se kompos is ingery.”
Terrasse moes geskep word om die val van die erf te akkommodeer en houtstompe is gebruik om die rande te stabiliseer. Hierdie hout is afkomstig van die groot ou bome wat pas vantevore by die George-museum afgesaag is en wat Raoul kon kry nadat hy aangebied het om dit weg te ry. Die hout van nog ‘n baie ou boom wat iemand in Adderleystraat afgesaag het, is ook gebruik.
‘n Paadjie van 130 m kronkel deur die tuin. Water- en voerbakke vir voëls is op strategiese plekke aangebring en daar is tot ‘n waterpunt vir perdebye en bye. Dis ‘n bak waarin klippies net-net met water bedek is sodat die insekte “sitplek” het terwyl hulle drink, verduidelik PJ.
Annatjie sê die hergebruik van hulle bestaande plante het die koste van die tuin omtrent gehalveer. Onderhoud gaan minimaal wees. Raoul en PJ het ‘n behoorlike dreineringen mikrobesproeiingstelsel geïnstalleer en vir onkruidbeheer is ‘n dik ondergrondse mat neergelê waardeur die onkruid nie sal groei nie. Die Groenewalds se nuwe huis is ook so groen en energiebesparend as moontlik gebou. Volgens Gerhard, het sy vrou die bou- en tuinprojek aangevoer. “Ons het vooraf besluit dit sal beter vir ons verhouding wees as een van ons die leiding neem, en Annatjie was gretig om dinge in die huis en tuin volgens haar eie smaak in te rig, so sy het eienaarbouer gespeel.
“Ek was die handlanger wat net opdragte moes uitvoer, maar ek is baie trots op wat sy vermag het.”