Wees dankbaar vir dit wat ‘n mens het
Soms, net soms, moet 'n mens gaan sit en 'n behoorlike en indringende bestekopname doen.
Min dinge is so verwoestend soos vuur én water. Voeg daarby erge stormwinde én reën, en 'n heksebrousel-resep vir 'n ramp is in die pot.
Oor die afgelope vyf weke het twee rampe - een mensgemaak en die ander 'n natuurramp - Suid-Afrikaners se verbeelding oor 'n wye front aangegryp. Voeg daarby wydverspreide veldbrande veral in die Vrystaat en Limpopo waar mens, dier en eiendom deurgeloop het, en 'n mens kan verstaan hoekom daar 'n mate van vuisvoosheid besig is om pos te neem.
Die mensgemaakte ramp het aan die einde van Augustus in Johannesburg plaasgevind toe, ironies genoeg, die voormalige "Paswettegebou", in Marshalltown afgebrand het. Met die onwettige besetting van geboue soos dié waar misdaadsindikate heerskappy vier, het dié brand tot die dood van 77 mense gely.
Vroeër vandeesweek is die skokkende nuus raakgelees dat ná die brand geblus en die lyke klaar getel is, is nog niks verder gedoen om te probeer bepaal hoe die brand in die eerste plek ontstaan het nie. Die ontheemde mense is ook nog nie ter wille gewees nie. Klein goedjies soos dat die departement van binnelandse sake probeer om bystand te verleen waar identiteite van sommige van die brandslagoffers vasgestel moet word, baar steeds 'n muis. Die voorlopige uitreiking van identiteitsdokumente waar alle karige besittings tot as verbrand is en net weer gehelp moet word om aan mense 'n eie identiteit te probeer bewerkstellig, dié baar 'n berg.
Nou kry 'n mens met die anderkant van die muntstuk te doen. Die Wes-Kaap het sowat drie weke gelede behoorlik pak gevat toe eers strande aan die Tuinroete weens 'n erge botsing tussen ongewone hoë- en laedruktoestande, uitsonderlike hoë deinings aangevuur deur 'n sterk westewind groot skade ondervind het. 'n Week later was dit weer die wind en uitermate reënneerslae, wat veral die Overberg en dele van die Boland laat deurloop het.
Erge oorstromings is ondervind en dorpe soos Sir Lowry's Pass Village, Ceres, Stanford, Bredasdorp en Robertson is vir ure en van hulle vir dae van die res van die wêreld afgesny. Daar was ook in 'n mindere mate lewensverlies, maar daar is skouer aan die wiel gesit en daar is gewerk om die geaffekteerde plekke weer aan die gang te kry sodat daar weer normaal met ons lewens voortgegaan kan word. Hoe moeilik dit ookal mag gewees het. Daar is onder uiterste omstandighede gewerk om dinge weer in plek te kry.
En dis waar 'n bestekopname gedoen moet word. Kyk na jou munisipaliteite wat werk en koester hulle. Dit sal niks van jou kos om 'n toebroodjie of selfs ;n koeldrank aan te dra as hulle deur die nag of oor naweke werk om jou "area" weer operasioneel te kry nie.
Daar is nie regtig baie van dié munisipaliteite meer oor nie, maar die Wes-Kaap en veral die Tuinroete is taamlik geseënd daarmee. Die manier hoe daar oral langs die Tuinroete met opruimings- en herstelwerk voortgegaan is ná die storms, verdien 'n onvoorwaardelike pluimpie. Of dit nou munisipaliteite is wat in koalisies met mekaar saamwerk of nie, dit verdien 'n klop op die skouer en daarvoor kan 'n mens nie genoeg dankie sê nie.