Belangegroep vir aftreeoorde hou AJV
Die Belangegroep vir Aftreeoorde en Aanverwante Instansies in die SuidKaap (BAASK), het op 20 Oktober hul algemene jaarvergadering by Garden Route Funeral Services op Mosselbaai gehou. Ongeveer 30 verteenwoordigers van regoor die Suid-Kaap het die geleentheid bygewoon.
BAASK is 'n nie-winsgewende organisasie (NWO), waar aftreeoorde en verwante instansies gemoeid met bejaardesorg in die Suid-Kaap, op vrywillige basis aansluit en baat vind.
BAASK se bedieningsgebied is hoofsaaklik die geografiese gebied wat strek van Plettenbergbaai in 'n denkbeeldige lyn oor Uniondale na Beaufort-Wes, Swellendam en Stilbaai.
Aftreeoorde en enige instansie wat gemoeid is met bejaardesorg en ingevolge die relevante wette bedryf word, mag aansoek doen om by BAASK te affilieer. Instansies wat belangstel kan met die voorsitter, Christo Steyn (044 805 7308) kontak maak.
Die voorsitter het sy jaarverslag gelewer. Hy het onder andere verwys na aanslae wat vanuit verskillende oorde ondervind word en dat die afleidings wat gemaak word is dat daar ’n besliste soeke na geleenthede is waarby aanvullende bydraes tot die ekonomie gemaak kan word deur hierdie sektor.
Wetgewing
Die onlangse bekendmaking van voorgestelde verandering en wetgewing in sekuriteitsdorpe, aftree-oorde en bestuursligame met betrekking tot ekonomiese transformasie, bring beslis kommer in die mark en die druk op bestuur in die bedryf raak al hoe groter.
Faktore soos die bekostigbaarheid om vir bejaardes te sorg is in Suid Afrika onder geweldige druk terwyl inflasionistiese aspekte en ander bydraende faktore soos voorsiening aan hernubare energie, onbeheerde styging van lewenskoste en die gebrek met verwysing na bydraes of subsidies tot bejaardesorg, dra alles daartoe by.
Ander sprekers by die geleentheid was Dr Mariëtte Halberg wat ‘n bydrae oor neuroplastisiteit gelewer het en Kelly Fourie, regsgeleerde, wat inligting verskaf het oor kuratorskap, administrasie en volmag.