DWARSLAT GESELS SPORTSAKE
Dwarslat se sportjaar het glad nie goed afgeskop met die katastrofiese tweede kriekettoets, wat op 3 Januarie tussen Indië en die Proteas op Nuweland afgeskop het. Die Proteas het die eerste toets 'n week tevore oortuigend met 'n beurt en 31 lopies gewen danksy 'n skitterende 185 lopies deur Dean Elgar, maar die fiasko wat op Nuweland gevolg het, het krieket in SuidAfrika tot 'n nuwe laagtepunt laat daal.
Die hele toets is binne 'n dag en 'n half afgehandel met Indië, wat met 7 paaltjies geseëvier het. Nie minder nie as 23 paaltjies het op die eerste dag gekantel terwyl daar in die hele toets net 642 balle in vier beurte geboul is. Die 55 lopies wat Suid-Afrika in die eerste beurt kon bymekaarkrap, was tot Dwarslat se ontsteltenis slegs een van 35 beurte waarin Suid-Afrika deur die geskiedenis tot minder as 'n 100 lopies in 'n enkele beurt beperk is.
Dit was egter die goedkoopste waarin Indië daarin kon slaag om Suid-Afrika uit te haal. Daar was egter al sewe ander beurte waarin Suid-Afrika nóg minder aangeteken het. Engeland het by twee geleenthede daarin geslaag om Suid-Afrika vir 'n skamele 30 lopies terug in die kleedkamer te kry. Nog meer verstommend is dat Engeland én Australië ook daarin geslaag het om Suid-Afrika in dieselfde toets in beide beurte vir minder as 50 lopies uit te haal.
Engeland in 1889 toe daar in Kaapstad op die tweede dag van die tweede toets SuidAfrika eers vir 47 uitgeboul is en toe in die opvolgbeurt kon die tuisspan weer net 43 lopies aanteken. Engeland (292) het met 'n beurt en 202 lopies gewen. In 1932 het die Aussies in die vyfde toets in Melbourne die loot verloor, maar Suid-Afrika tot net 36 lopies in sy eerste kolfbeurt beperk. Die tuisspan het met 153 geantwoord waarna Suid-Afrika weer vir 45 uitgeknikker is om die toets met 'n beurt en 72 lopies te verloor. Die Aussies het ook die reeks met 5-0 gewen.
Van die 35 beurte waar Suid-Afrika vir minder as 100 lopies uitgehaal is, het 21 van dié huil-beurte op plaaslike bodem plaasgevind. Daarvan was 10 beurte in Kaapstad, sewe in Johannesburg, drie in Port Elizabeth en een in Durban. Kyk 'n mens egter na vertonings in die 2000's het dit reeds agt keer gebeur waarvan vier van dié beurte in Suid-Afrika beslis is. Twee in Johannesburg (2016, 83; 2006, 84) en twee in Kaapstad (2024, 55; 2011, 96) terwyl Galle in Sri Lanka (2018, 73), Nagpur in Indië (2015, 79), Christchurch in NieuSeeland (2022, 95) en Brisbane in Australië (2022, 99) ook al stille getuies was van sulke liederlike kolf-ineenstortings deur die Proteas.
Die Protea-afrigter, Shukri Conrad, het met reg sy ontevredenheid oor die toestand van die blad uitgespreek, maar dit is nie meer net tot Nuweland beperk nie. Dwarslat kan om die dood toe nie meer onthou wanneer laaste 'n vyfdaagse toets op plaaslike bodem vir die volle duur plaasgevind het om 'n uitslag te bewerkstellig nie. En dit is besig om 'n al groter wordende probleem te raak.
Nie net in Suid-Afrika nie, maar dwarsoor die krieketspelende wêreld waar toetskrieket al hoe meer aan die agterste speen begin suig ten koste van die blitsformaat soos die T20-reekse waar die groot geld lê en die tegniek van die spel 'n al hoe kleiner wordende faktor begin raak. Solank jou treftempo meer as 100% is, sal jy in aanvraag wees en sal daar groot geld vir jou uitgehaal word.
Kort op die hakke van Elgar se uittrede ná die reeks teen Indië so skouspelagtig in 'n antiklimaks verander het, het Heinrich Klaasen ook sy uittrede uit die rooibalformaat aangekondig ondanks die feit dat hy dit as sy gunsteling-formaat beskryf. Hy gaan ook net voortaan op die witbalweergawe konsentreer.
Ander sport
In ander sport is Dwarslat heilig daarvan oortuig dat die Spaanse matador, Rafael Nadal, se tyd op die wêreld se tennisbane waarskynlik iets van die verlede is. Met sy onttrekking aan die Australiese Grand Slam-toernooi, wat Sondag in Melbourne afskop ná hy vir bykans 'n jaar op die kantlyn was weens 'n heupoperasie, is sy permanente uittrede nie meer te ver in die toekoms nie. En dit stem baie ooreen met hoe sy groot vriend en steeds die wêreld se gunsteling, Roger Federer van Switserland, aan die einde van sy loopbaan gekom het.
Ná herhaalde beserings moes Federer ook in September 2022 uiteindelik die handdoek ingooi en dit is presies die situasie waarin Nadal tans is. Nadal het egter niks verder om te bewys nie. Hy kan ook daarvan vergeet om Novak Djokovic van Serwië te probeer inhaal, wat Grand Slam-titels betref. Die 36-jarige Djokovic, wat self met 'n polsgewrig-besering sukkel, jag sy elfde Aussie titel en bitter min mense sal geld teen hom verwed om sy 25ste Grand Slamtitel te verower. In Grand Slam-toernooie verander hy in 'n ander dierasie, wat nie maklik in toom gehou word nie. Anders as Nadal en Federer, het die beseringspook hom ook nog nie te veel gepla nie en hy het nog genoeg brandstof in sy tenk om die gaping tussen hom en Nadal met 22 Grand Slam-titels te vergroot.
Op die rugbyfront in die Verenigde
Rugbykampioenskapsreeks (VRK) is dinge besig om lekker bymekaar te kom tussen die Bulle en die Stormers in die jag na die titel as die voorste Suid-Afrikaanse span in dié reeks. Die Leeus is self besig om vriend en vyand te verras en soos sake tans staan is die kans goed dat dié span ook die uitspeelrondes kan haal. Hoe minder oor die Haaie gesê word hoe beter. Op papier lyk dit na die span vir wie almal moet skrik, maar wedstryde word nie op papier gewen nie. Daar is egter 'n groot skroef los in dié Springbok-besaaide kamp, wat sedert die afskop van die seisoen nog net twee keer uit 11 probeerslae aan die wenkant was.
Die Dakar-woestynren het Dwarslat nog altyd gefassineer. Hierdie moet 'n spesiale groep mense wees, wat bereid is om hul liggame so te moor. Amper soos die jaarlikse Trans Agulhas. Dwarslat het al verskeie van dié wedvaarte meegemaak en was nog elke keer verstom om te sien dat die ridders van die branders die volgende oggend weer aantree om nog verdere slae te verduur.
Dieselfde geld die Dakar, wat vanjaar vir die 46ste keer aangebied word. Deur net na die uitslae te loer gaan dit Dwarslat se verstand te bowe dat jy bereid is om jouself so te straf. In die afdeling vir motorfietse en voertuie is daar gapings van onderskeidelik 63 en 68 ure tussen die voorste jaers en die agterosse onderskeidelik. En dít na net vier dae tussen die duine! Waar die voorlopers in die voertuie byvoorbeeld die totale afstand in net meer as 15 uur afgelê het, het dit die laaste ryer in dié afdeling langer as 83 uur geneem vir dieselfde afstand. En dit uit 'n totaal van 96 uur sedert die woestynren begin het. Waar en wanneer het dié span geslaap as hulle so ver agter is?