Mos(net)mens
Maandag in Mosselbaai was nie gewoon nie. Die Maandag se blou was in die donkeramperswart wolke wat ons kon sien saampak oor Groot Brak en toe ‘n amper Pretoria donderstormpie en haelkorrels so groot soos Jakkalsvlei se druiwekorrels wat soos sneeu kom lê het vir 'n wyle.
Die ander verskynsel het eers donker aangekom in die vorm van die reuse skip The World. Ook ‘n rare verskynsel. ‘n Yslike luukser as luuks boot waarop afgetredenes woon - die trekpleisters is voor die hand liggend. Luuksheid, versorging, sekuriteit en die opwinding van elke oggend ‘n ander uitsig uit jou kajuitvenster sien.
Vir die met ongekende rykdom beslis ‘n opsie. Vir my met meer probleme as geld net ‘n droom. ‘n Droom wat ek besef nie my droom is nie. Iemand vra my nou die dag wat my toekomsdrome is. Ek besef my droom is dat ek môre mag hê wat ek vandag het. My gesondheid. My dorpie. My huis. My werk. My gesin. My groen grasperk met my diere. Kanse is baie goed dat ouderdom baie daarvan gaan wegneem. Die kinders word groot en trek weg. Die werk het ‘n aftreedatum. Diertjies leef nie so lank soos ons nie. Ons dorpie verander so vinnig dat ek nou reeds wonder of dit nog lekker is hier. El Nino se droogte gaan die gras laat vergeel. Gesondheid is ‘n geleende gawe.
Ek kyk dalk elke dag na dieselfde see deur my selfde venster. Maar die see is elke dag anders. Die grond onder my voete is myne. Die blommetjies is deur my geplant en die voëltjies sing vrolik terwyl hulle die saad eet wat my begroting nie laat klop nie. Ek voel eintlik jammer vir die mense op hulle luukse boot wat net kan waarneem. Wat nie kan plant en wortelskiet en die son sien bekende rigtings indwaal soos die seisoene verander nie.
Skielik voel ek baie ryk. Baie bederf. Baie broos. Soos die skielike ongekende haelkorrels binne sekondes kon skade veroorsaak, so kan alles in my lewe in ‘n oogwink verander. Ek het baie om te verloor, want ek is skatryk. Ek leef elke dag my droom. Voluit. Terwyl ek kan.