Mossel Bay Advertiser

Hardloopru­gby op sy beste

- Charles Theunissen

Harlequins van Oudtshoorn het die afgelope naweek 'n duidelike waarskuwin­g in die Suidwestel­ike Distrikte (SWD) se klubrugby gerig toe dié span op sy tuisveld in die Premier Liga met 48-41 as oorwinnaar­s van die veld gestap het teen Mosselbaai se Barbarians.

Dit was 'n spannende tweestryd waarin beide spanne vol planne was en daar ordentlik met die bal gehardloop is.

As die groentjie in die Premier Liga, het Quins gewys hulle sal nie op hul tuisveld onderskat moet word nie. Met speeltyd reeds verstreke, het die tuisspan in die 87ste minuut daarin geslaag om met knaende aanvallend­e spel die wenpunte aan te teken viir hul eerste oorwinning van die 2024-seisoen.

Ná die Babaas aanvanklik die hef in die hand gehad en vroeg reeds met 12-0 voorgeloop het, was dit die tuisspan, wat beheer geneem en met die draaislag met 24-12 baas was.

Die besoekers kan hulself egter self skop dat hulle by twee geleenthed­e in die eerste helfte nie die nodige afrondings­werk kon doen nie en gulde geleenthed­e verspil het om punte aan te teken.

Barbarians is ná die rustyd verder onder druk geplaas toe die tuisspan die voorsprong tot 31-12 gerek het. Die besoekers het egter daarna letterlik uit die as opgestaan en met opwindende rugby daarin geslaag om die wind uit die seile van die tuisspan gehaal en met vyf vyfpunters latyer die agterstand in 'n voorsprong met 41-31 omskep.

Die Barbarians se verdedigin­g het hulle egter toe in die steek gelaat en Harlequins het dit behoorlik uitgebuit deur met twee onverdoeld­e drieë die telling gelykop te maak voor die tuisspan die uitklophou geplant en die voorloper in die Liga met die kous oor die kop huis toe gestuur het.

Daar sal ook ernstige aandag aan die Barbarians se besluitnem­ing op die veld gegee moet word. Met twee strafskopp­e binne trefafstan­d het hulle besluit om die kantlyn op te soek. Die taktiek het nie gewerk nie en dit was juis as gevolg daarvan dat die tuisspan verdedigin­g in aanval kon omskep om die finale spyker in die Babaas se doodskis te kon slaan met 'n pragdrie teen die einde.

Die Babaas se tweede en derde spanne het onderskeid­elik met 38-27 en 48-9 gewen.

Môre speel Babaas tuis op D’Almeida Park teen Evergreens van Pacaltsdor­p en goeie rugby word in die vooruitsig gestel.

Die Barbarians se verdedigin­g het hulle egter in die steek gelaat.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa