Mossel Bay Advertiser

Vier die lewe en herdenk die dood

- Louise Karsten

Mei is vir my 'n wipplank maand. Dit is die een maand in 'n jaar waartydens ek die dood gedenk én die lewe vier.

Vanjaar sal dit reeds drie jaar wees sedert ek vir oulaas 'n betekenisv­olle gesprek met my pa, Arend Posthuma, kon hê.

Ek onthou daardie dag soos gister en ek onthou ook waaroor ek en hy alles gesels het.

Weens die omstandigh­ede voor sy dood het ek 'n voorgevoel gehad dat hy dalk sal doodgaan. Ek het daardie paar uur saam met hom benut om vir hom alles te vra wat ek nog ooit wou vra, maar nooit tevore het nie.

Drie dae na daardie gesprek is hy dood. Mei is ook my dogter en my pa se verjaarsda­gmaand. Die dae kort op mekaar.

Sedert my pa se dood vier ek en my dogters sy verjaarsda­g jaarliks by 'n plaaslike restaurant op Mosselbaai waar die heerlikste nageregte bedien word. Omdat hy so lief was vir soetgoed sluit ons altyd die maaltyd en die viering van sy verjaarsda­g met 'n spesifieke gereg af. Ek drink ook elke jaar op sy verjaarsda­g vonkelwyn en vier sy lewe.

Laaste gesprek

Op 4 Mei maak ek tyd om my selfoon vir 'n ruk af te skakel en ek neem 'n paar oomblikke om stil te raak en aan my pa te dink maar veral aan daardie laaste gesprek tussen my en hom.

Die afgelope twee jaar het ek elke keer by die see gaan sit en dan het ek elke keer vir hom 'n klippie in die water gegooi.

Ek dink ek sal dit seker weer vanjaar so doen.

Van alles wat op 4 Mei tusssen my en hom gesê was het een ding vir my uitgestaan. Ek het vir hom gevra of hy enigiets anders in sy lewe sou wou doen waarna hy 'n ruk lank in stilte nagedink het voordat ons oogkontak gemaak het en hy met sekerheid geantwoord het: "No regrets."

Daar het baie goed oor die jare tussen my en hom gebeur maar daardie dag by sy hospitaalb­ed in Vanderbijl­park het ek en hy mekaar in die oë gekyk terwyl ons oor hartsake gesels het. Sy oë was die mooiste blou wat ek al ooit gesien het, nou dat ek daaraan dink.

Dit moet 'n groot verligting wees om dit te kan sê wanneer jy weet jou lewe staan einde se kant toe. Ek hoop ek kan dit ook eendag sê.

Mei maak ek tyd om na te dink oor die lewe en die dood, en ek glo elkeen van ons moet dit probeer doen, want verlies klop aan almal se deur.

Die tyd vlieg

Dit is so maklik om in die malle gejaag van elke dag afgestomp te raak, maar die tyd vlieg, helaas soos 'n straler en nie soos 'n vlieër of lugbalon nie.

Breyten Breytenbac­h skryf: "Mag die bome groen bly en die sterre wit, en mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk, want die lewe is ‘n asem lank en die sterre op die anderplek donker."

Ons moet leer om nie net die dood te gedenk nie maar ook die lewe te vier. Ek en my pa het mekaar op 4 Mei sonder skaamte in die oë gekyk en daarvoor is ek ewig dankbaar.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa