Oudtshoorn Courant

Hofbevel vir beslaglegg­ing op Rabie-egpaar se bates

- GARNETT WICOMB

Die Nasionale Vervolging­sgesag (NVG) het ingevolge ‘n hofbevel ‘n kurator bonis aangestel om beslag te lê op die bates van ‘n egpaar van Oudtshoorn, Marthinus en Johanna Rabie, wat teregstaan op 34 klagtes van bedrog waarby miljoene rande betrokke is.

Die staat beweer dat Marthinus Rabie, ‘n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse departemen­t van landbou by die Oudtshoorn-proefplaas, sy vrou se twee beslote korporasie­s, Attaqua en Gwaiing Ontwikkeli­ngs, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders. Hulle het hulself daardeur, volgens die staat, onregmatig verryk en begunstigd­es benadeel.

Marthinus ontken dat hy fisies betrokke was by projekte van sy vrou. So byvoorbeel­d ontken hy die getuienis van ‘n pa en seun van Matjiesriv­ier, Dermorney en Johan Wicomb, dat hy hulle met die staat se voertuig vanaf die Oudtshoorn-proefplaas na Zoar vervoer het waar hulle vir Attaqua gewerk het.

Voorts ontken hy dat hy olyfboompi­es by Hoërskool Ladismith aangeplant het, terwyl sy vrou nie eens teenwoordi­g was nie. Hy ontken ook dat hy ander amptenare van die departemen­t weggehou het van die projek.

Die NVG het Alon Kowen van Pure Capital, as kurator aangestel wat nou beslag kan lê op die egpaar se bates hangende die uitslag van die saak wat nou reeds jare voortsleep. Indien die staat suksesvol is met ‘n skuldigbev­inding, sal die eiendom waarop beslaggelê is, verkoop word en die opbrengs in die Kriminele Bate Herwinning­srekening (CARA), ‘n spesiale rekening binne die Nasionale Inkomstefo­nds (NRF) inbetaal word.

Indien die staat onsuksesvo­l is, sal die bates aan die beskuldigd­es terugbesor­g word.

Die saak word deur streekland­dros Daniel Boks aangehoor en is met die beskuldigd­es se laaste verskyning twee weke gelede, tot 9 Oktober uitgestel nadat hulle die mandaat van hul regsvertee­nwoordiger tot dusver, Gideon Badenhorst, beëindig, en ‘n nuwe regsman, Henry van Breda, aangestel het.

Die twee is op waarskuwin­g vrygelaat.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa